
Die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) het sy goue medalje vir 2020 toegeken aan dr. Gideon Brückner, ’n voormalige nasionale direkteur van Suid-Afrika se veeartsenykundige diens.
Brückner word veral plaaslik onthou vir sy rol met die bestryding van bek-en-klouseer op Camperdown, KwaZulu-Natal, in 2000. In 2006 is hy by die OIE in Parys, Frankryk, aangestel as hoof van die departement wetenskap en tegnologie en hy was daar betrokke totdat hy in 2018 afgetree het.
Vanweë die pandemie het die OIE sy amptelike toekenningsgeleenthede uitgestel. Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het sy medalje namens die organisasie in Kaapstad by die amptelike dinee ná haar begrotingsrede oorhandig.
Brückner, ’n oudstudent van die Universiteit van Pretoria se fakulteit veeartsenykunde, is die tweede oudstudent van dié fakulteit wat hierdie medalje ontvang. Dr. Roy Bengis het dit in 2015 ontvang.
Die medalje dien as internasionale erkenning aan individue wat hulself onderskei het deur uitstaande diens in die veeartsenykundige wetenskap, asook hul beduidende bydrae tot die tegnologiese en wetenskaplike ontwikkeling van die OIE se doelwitte.
Brückner sê dit is ’n groot eer om die toekenning te ontvang en ook die erkenning deur die OIE vir sy werk. “Dit sou sekerlik lekker gewees het om dit in Parys, Frankryk, te kon ontvang het, maar dit was nog beter om my familie en my eie mense teenwoordig te kon hê tydens die dinee en geleentheid.”
Brückner, wat deesdae ’n lid van die onlangs gestigte ministeriële taakspan vir biosekerheid is, was al in byna 80 lande betrokke by die bekamping van bek-en-klouseer. Hy speel nou ook weer ’n belangrike rol om die uitbrekings van bek-en-klouseer in Suid-Afrika te stuit.
Hy glo die belangrikste element in die bekamping van die siekte is onmiddellike optrede. Die situasie moet so gou moontlik onder beheer gekry word en dan moet die virus heeltemal uit die weg geruim word.