
Die landbouministers van ses Latyns-Amerikaanse lande meen Suid-Amerika kan ’n groot rol in die wêreld se voedselsekerheid speel.
Dié ses ministers was Maandag (2 Mei 2011) tydens die opening van die 18de Agrishow in Ribeira Preto in Brasilië byeen.
Mnr. Wagner Rossi, die Brasiliaanse minister van landbou, sê: ‘‘Die enigste ander vasteland wat op dieselfde skaal as Suid-Amerika kan produseer, is Afrika. Afrika het egter nie die hulpbronne en tegnologie om dit so suksesvol soos ons te kan doen nie. So, ons is vasberade om aan ander lande dié hulpbronne en tegnologie wat hulle nie het nie, te voorsien.’’
Rossi het die ministers van Argentinië, Paraguay, Urugay, Bolivië en Chili genooi om die Agrishow by te woon en hulle te vergewis van wat Brasilië ten opsigte van tegnologie en volhoubare boerdery aanbied.
Die Agrishow
Die Agrishow is een van die grootstes in sy soort ter wêreld, met 765 uitstallers wat aan vanjaar se uitstalling deelneem. Die statiese uitstallings vind op 36 ha van die terrein plaas, terwyl demonstrasies op sowat 100 ha gedoen word.
Sowat 145 000 mense besoek die uitstalling jaarliks. Die terrein behoort aan die staat Sao Paulo.
Die kontrak vir die Agrishow is vir’n tydperk van 30 jaar verleng, is met die opening aangekondig. Dit word in Ribera Preto aangebied, aangesien die stad en distrik Brasilië se rykste landboustreek is.
Die uitdagings
Rossi sê Brasilië is een van die drie toplande in die wêreld as dit by landbouproduksie kom. Hy sê een van hul groot uitdagings is om die natuurlike woude en die Amasone te behou, terwyl hulle moet seker maak genoeg grond word bewerk.
‘‘Ek dink baie lande kan by ons kom leer hoe om die balans tussen die gebruik van grond vir produksie en die behoud van die omgewing te balanseer.’’ Die finansiering van projekte om grond te herstel waar woude uitgeroei is, is wel ’n groot probleem.
Intussen sê mnr. Julian Dominquez, die Argentynse minister van landbou, by hulle geld die beleid dat geen bome wat nie vervang gaan word nie, afgekap mag word nie.
Leer by ander lande
Volgens Dominquez maak hulle gereeld kontak met ander lande wat ander boerderymetodes as hulle gebruik, en met dié inligting probeer hulle om die beste werkswyse vir hul eie land te ontwikkel.
Hy meen dat Suid-Amerikaanse lande moet saamwerk om die verskillende produkte wat hulle lewer, aan die wêreld te bemark. Byvoorbeeld, in Argentinië word rys geproduseer en in Brazilië suiker, terwyl sojabone ook ’n belangrike produk in die streek is. Dié produkte kan as ’n pakket bemark word.
Die Agrishow duur tot Vrydag (6 Mei 2011).
3 Mei 2011