
Die Suid-Kaap loop opnuut deur onder brande, met 'n hewige brand wat tans noord van Swellendam en Heidelberg in die omgewing van die Zuurberg- en Grootvadersbosch-natuurreservate woed.
Volgens mnr. Danie de Bruyn, wat betrokke is by die pogings om die situasie onder beheer te bring, het die brande reeds op 24 Februarie naby die Tradouw-pas begin.
Dit brand tans aan Suurbraak én Swellendam se kant van die berg maar volgens De Bruyn is tot dusver geen skade aan infrastruktuur aangerig nie.
Meer as 40 mense, insluitend boere en lede van Cape Nature en Working on Fire, help om die brand te bestry in 'n poging om denneplantasies te beskerm.
De Bruyn sê hoewel die wind bly draai, druk dit hoofsaaklik die brand in 'n suidelike rigting na Swellendam toe. Intussen het die Sentraal-Suid Koöperasie (SSK) op Swellendam bottels water geborg om brandbestryders te hulp te staan.
Foto's: Verskaf