
Sy was die afgelope agt jaar die Suid-Afrikaanse Suikervereniging (SASV) se handelsdirekteur.
Volgens mnr. Trix Trikam, uitvoerende direkteur van die SASV, het Wilson tydens haar loopbaan by die vereniging onder meer die “allerbelangrike” meesterplan vir die suikerrietwaardeketting tot 2030 aangevoer, die suikerterminaal in die Durbanhawe suksesvol bestuur en die Shukela-opleidingsentrum ná die covid-19-pandemie herstel.
“Judith was ’n geliefde en hoogaangeskrewe lid van die SASV se uitvoerende span. Sy het die grootste bewondering, vertroue en agting van alle suikerbedryfslede en ander belanghebbendes gehad, insluitend amptenare van verskeie staatsdepartemente.”
Mnr. Deane Rossler, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Suikermeulenaarsvereniging,
sê Wilson se wye reeks professionele verantwoordelikhede het haar betekenisvolle vermoëns en vaardighede weerspieël.
“Judith het ’n wonderlike bydrae tot die suikerbedryf gelewer. Sy was ’n baie spesiale kollega en vriendin vir almal en is deur almal vertrou en gerespekteer. Ons wil graag ons gesamentlike hartseer oor haar skielike afsterwe aan haar familie, vriende en kollegas oordra.”
Mnr. Andrew Russell, voorsitter van die SA Suikerietkwekersvereniging, beskryf haar verlies as “enorm”, omdat sy ’n passie gehad het om oplossings vir probleme te vind sonder om bestuursprosedures in die gedrang te bring. Hy beskryf haar werk aan die meesterplan as prysenswaardig en sê dit was ’n eer vir sy vereniging om saam met haar te kon werk.
“Maar meer as dit, sy was ’n vriendelike en empatiese kollega wat lig en energie na ons samewerking gebring het. Haar familie en vriende is in ons gedagtes en gebede.”
Dr. Siyabonga Madlala, hoofbeampte van die Suid-Afrikaanse Boere-ontwikkelingsvereniging, sê in ’n huldeblykvideo aan Wilson dat haar afsterwe sy vereniging en die breër suikerbedryf van “een van die beste, progressiefste en deernisvolste jong vroueleiers in die samelewing” ontneem het.
Sy het ’n MBA-kwalifikasie gehad, asook ’n meestersgraad in landbou, en sy was ook ’n geakkrediteerde bemiddelaar by die sentrum vir doeltreffende dispuutbeslegting. Sy het voorheen vir Sappi gewerk in bosbounavorsing, sake- en kommersiële rolle, en vir Novartis Animal Health as landhoof vir Suider-Afrika.
Wilson word oorleef deur haar man, Sean, haar seun, Ben, haar pa, Tony, en haar suster, Sarah.