
Die suikerbedryf hoop mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, kom vandag die regering se ondernemings in die suikermeesterplan na in sy begrotingstoespraak.
Die eerste driejaarfase van die plan is in November 2020 onderteken. Die partye wat die plan onderteken het, het onder meer onderneem om die vraag na plaaslike suiker te verhoog, beter invoerbeskerming te bewerkstellig, meer ondersteuning aan klein suikerrietboere te gee, ’n meer diverse suikerriet-gebaseerde bedryf te skep, die bedryf te transformeer en die potensiaal om dit te herstruktureer, te ondersoek.
Die regering het onderneem om die gebruik van plaaslik geproduseerde suiker by alle staatsdepartemente en staatsinstellings te bevorder. Die departement van handel, nywerheid en mededinging het ook onderneem om geskikte maniere te vind om suiker en produkte wat suiker bevat, in beleid en wetgewing oor voorkeurverkryging op te neem. “Suid-Afrika se rietkwekers doen ’n beroep op min. Patel om verslag te doen oor die regering se vordering in dié verband.”
Van sy kant het SA Suikerrietkwekers reeds die “Home Sweet Home”-veldtog in Desember 2020 van stapel gestuur. Sedertdien het hy vennote soos Trots Suid-Afrikaans en Shoprite Checkers bygekry. Funke sê dié veldtog moet ondersteun word deur regeringsoptrede om die invloei van goedkoop suikerprodukte, wat die bedryf R2 miljard per jaar kos, te keer.
Die bedryf het ook stappe gedoen om kleinskaalse kwekers te ondersteun en transformasie te bevorder. SA Suikerrietkwekers het in Januarie R60 miljoen as ’n bykomende premieprys uitbetaal aan kleinboere wat daarvoor in aanmerking kom. Dit was bykomend tot die R165 miljoen wat aan kleinskaalse boere uitbetaal is as deel van ’n verbintenis om R1 miljard oor vyf jaar in die bedryf se transformasie te belê.
Ook in dié opsig is dit nodig dat die regering sy deel doen, sê Funke. “Dis noodsaaklik vir die oorlewing van alle suikerrietboere dat die regering die suikerbelasting in heroorweging neem.
“Hoewel daar tot dusver nie bewyse is dat die belasting ’n gunstige uitwerking op vetsugvlakke in Suid-Afrika het nie, het dit ’n verwoestende uitwerking op boere gehad. Dit het ’n verlies van 16 621 werksgeleenthede en R2,04 miljard in verlore inkomste veroorsaak in die eerste jaar dat dit in werking gestel is. Ons hoop dus die minister kan ’n onderneming gee dat die regering die uitwerking van die suikerbelasting sal ondersoek.”
Volgens Funke is die versnelling van die diversifikasie van die suikerrietwaardeketting noodsaaklik vir die bedryf se oorlewing op die duur. Hulle hoop dus Patel maak ’n betekenisvolle aankondiging oor die vordering met ’n ondersoek na die lewensvatbaarheid van lugvaartbrandstof uit suikerriet.