
’n Handtekening op die regte plek kan vir Suid-Afrika se 14 groot suikermeulens die groen lig gee om te begin bou aan kragsentrales wat oor minder as twee jaar gesamentlik 850 MW elektrisiteit uit suikerrietblare kan opwek. Dit is die ekwivalent van een eenheid van die Medupi- of Kusile-kragsentrale wat in aanbou is.
Maar Eskom hou te midde van elektrisiteitstekorte aan om “onvoldoende swart ekonomiese bemagtiging” voor te hou as struikelblokke in die suikerbedryf se voorstelle.
Eskom en die Regering se voetslepery met toestemming vir sulke openbare/private vennootskappe het oor die afgelope vyf jaar die boukoste van sulke aanlegte ook aansienlik verhoog.
“Vyf jaar gelede sou dit 60% tot 70% goedkoper gewees het om dit te bou,” sê mnr. Charl Senekal, ’n suikerrietboer van KwaZulu-Natal.
Senekal het reeds toestemming vir die oprigting van ’n biomassa-aanleg van 16 MW op sy plaas naby Mkhuze. Hy gaan ook twee sonkragplase van 5 ha elk op die been bring, wat saam 6 MW kan opwek.
Hierdie projekte en die vyfpuntplan om die elektrisiteitskrisis op te los wat mnr. Jeff Radebe, Minister in die Presidensie, onlangs aangekondig het, gee vir Senekal hoop. Radebe het spesifiek na die suiker- en bosboubedryf verwys as potensiële vennote in kragopwekking.
Senekal sê hoewel niks die suikerbedryf verhinder om aanlegte te bou en elektrisiteit regstreeks aan groot maatskappye te verkoop nie, het die bedryf die staat nodig om die hoë boukoste van sowat R1,4 miljard van ’n suikerkragsentrale te finansier: “As Eskom vir ons die jawoord gee, sal ons met die Departement van Handel en Nywerheid moet praat oor gunstige finansieringsmodelle,” sê Senekal.
Hy wys daarop dat die staat nie kan bekostig om aan te hou om die opwekkingsvermoë van die suiker- en bosboubedryf te ignoreer nie.
Dit kan druk op die bestaande infrastruktuur vir kragopwekking binne 18 maande begin verlig en kan ’n noemenswaardige rol in plattelandse ekonomieë speel.
Senekal bereken dat ’n suikerrietboer wat gemiddeld 5 000 ton suikerriet per jaar produseer, ’n ekstra R350 000 uit sy biomassa vir kragopwekking kan verdien. “Groot én kleinboere kan hierby baat vind.”
Die grootste voordeel uit kragopwekking uit biomassa is egter dat die brandstof 100% hernubaar is en regdeur die jaar beskikbaar is.