
Pogings om te verseker dat Suid-Afrika se net meer as 21 000 kleinskaalse suikerrietkwekers lewensvatbaar bly en steeds ’n betekenisvolle bydrae tot die land se suikerwaardeketting lewer, is in volle gang. Sowat R60 miljoen is onlangs uit die suikerbedryf se transformasiefonds verdeel onder kleinskaalse produsente wat daarvoor in aanmerking kom, as ’n premie tot die kommoditeitsprys wat alle suikerrietkwekers vir hul oeste betaal word.
Luidens ’n verklaring van die Suid-Afrikaanse Suikervereniging (SASV), wat die transformasiefonds administreer waartoe belanghebbendes van reg oor Suid-Afrika se primêre suikerrietwaardeketting bydra, is die uitbetaling van hierdie premieprys deel van die suikerrietwaardeketting-meesterplan wat vir tot 2030 opgestel is.
“Die suikerbedryf het ’n transformasieplan van R1 miljard en vyf jaar waaraan hy minstens R200 miljoen op ’n jaargrondslag toeken, met R142 miljoen hiervan as ’n verbintenis om ongelykhede reg te stel wat deur swart, Indiër- en bruin suikerrietboere ervaar word,” lui die verklaring.
Me. Joanmariae Fubbs, ondervoorsitter van die SASV, sê luidens die verklaring die voorkeurprysstruktuur is bedoel om kleinskaalse produsente onmiddellik te ondersteun terwyl ondersteuningsmeganismes op lang termyn vir hulle ontwikkel word. Dit is in erkenning van die probleme met skaalekonomiewat hierdie spesifieke produsente raak.
Fubbs sê die uitbetaling van R60 miljoen kom neer op ’n bykomende R22 per ton op die sowat 2,7 miljoen ton suikerriet wat die betrokke boere gesamentlik verlede jaar vir verwerking gelewer het.
“Gemiddeld sou ’n kweker wat 1 000 ton per seisoen produseer, R22 121 as bykomende betaling ontvang het, terwyl ’n kweker wat 1 500 ton produseer, meer as R33 000 as bykomende betaling ontvang het.”
Mnr. Andrew Russell, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging (SSA), verwelkom luidens die verklaring die uitbetaling van meer as R225 miljoen aan kleinskaalse suikerrietkwekers einde Januarie.
Russell wys daarop dat die R60 miljoen verdeel word tussen alle produsente wat daarvoor in aanmerking kom. Dit is boere op kommunale grond of grondeienaars wat elk jaarliks minder as 1 800 ton suikerriet vir verwerking lewer. Altesaam R115,4 miljoen is uitbetaal as toelaefinansiering aan swart produsente wat jaarliks minder as 1 800 ton elk lewer, en R50,47 miljoen is uitbetaal as toelaefinansiering aan swart produsente wat jaarliks meer as 1 800 ton suikerriet lewer.
“Die betalings kom op ’n goeie tyd vir kleinskaalse produsente. Oor die afgelope twee jaar moes produsente nie net die wydverspreide suikerrietbrandstigting met die Julie-onluste oorleef nie, maar ook koste wat aangegaan is om die covid-19-pandemie te bekamp, die voortgesette toepassing van die gesondheidsbevorderingsheffing (suikerbelasting), dalende verwerkingskapasiteit, wat beteken dat aansienlike hoeveelhede suikerriet oorgedra moet word, en ’n eksponensiële toename in insetkoste soos vir kunsmis,” sê Russell.
Die Suid-Afrikaanse boere-ontwikkelingsvereniging (Safda) sê luidens ’n verklaring boere sal voordeel trek uit die premieprys aangesien dit hul pryse in pas met die plaaslike mark sal bring, hulle sal vergoed word vir verliese op internasionale suikermarkte, en die kostenadele uitwis wat verband hou met hul produksieskaal en afgeleë liggings ver van suikermeulens, wat hul produksiekoste drasties verhoog.