
Die suikerbedryf het in die huidige seisoen R216 miljoen beskikbaar gestel om kleiner boere te help. Die Suid-Afrikaanse Suikervereniging (SASV) het einde Januarie die jongste transformasiefinansiering van R79 miljoen aan opkomende boere beskikbaar gestel.
“Hierdie finansiering is noodsaaklik, maar nie genoeg om Suid-Afrika se meer as 21 000 kwekers wat op klein skaal boer, te help om die vele probleme in die bedryf te oorkom nie,” sê mnr. Andrew Russell, voorsitter van Suikerrietkwekersvereniging.
Die regering moet volgens hom ook sý deel doel om die kwekers wat op klein skaal met suikerriet boer, te help en hierdie pogings deur die bedryf ondersteun.
Finansiering vir transformasie
Die finansiering vir transformasie in die bedryf is deel van die bedryf se onderneming om R1 miljard oor ’n tydperk van vyf jaar daaraan te bestee. Die program trek nou in sy vierde jaar met meer as R800 miljoen wat reeds betaal is. Die kwekers is verantwoordelik vir 64% van die geld wat reeds beskikbaar gestel is.
Jaarliks word ook R60 miljoen betaal as deel van die meesterplan vir die suikerriet-waardeketting, ’n ooreenkoms tussen die bedryf, die regering en belanghebbendes in die waardeketting.
“Dit wil egter voorkom asof die regering se optrede tekort skiet wat sy voornemens betref, nieteenstaande die poging deur die bedryf om Suid-Afrika se kleinskaalse kwekers te red.”
Russell sê die regering kon tot dusver geen inligting verskaf oor hoe gevorder word met die onderneming om die verkryging van plaaslike vervaardigde suiker deur staatsdepartemente en staatsinstellings te bevorder nie.
“Dit lyk ook nie asof die regering die gesondheidsbevorderingsheffing heroorweeg nie, al is daar binne die raamwerk van die meesterplan so onderneem.
“Net hierdie twee maatreëls, wat eksklusief binne die regering se gesag val, kan aansienlike verligting bring vir werkers, kwekers en afhanklike gemeenskappe.”
Vele struikelblokke vir bedryf
Die kwekersvereniging het onlangs aangedui die verwagte verlies in 2023 weens beurtkrag en die gepaardgaande probleme met besproeiing kan tot R723 miljoen beloop.
In Oktober het die suikerreus Tongaat Hulett se besluit om vrywillig in sakeredding in te gaan, sake vir kwekers vererger.
Dit volg op die bedryf wat reeds swaar getref is deur die vloede en onrus in KwaZulu-Natal.
Stygende insetkoste oor die landbousektor heen vreet ook aan kwekers se inkomste.
“Kwekers swig onder die druk van al hierdie struikelblokke, maar steeds doen die bedryf alles in sy vermoë om die kwesbaarste deelnemers in die bedryf te ondersteun. Ons wil egter dieselfde vanaf die president af hoor.
“Die regering volg soos die president lei en daarom moet hy die noodsaaklikheid van die suikerbedryf, veral ter wille van plattelandse ekonomieë, Donderdag duidelik uitstippel.”
- Skrap die gesondheidsbevorderingsheffing, wat volgens die vereniging werksgeleenthede vernietig.
- Die regering moet ook opnuut benadruk hoe belangrik dit vir staatsdepartemente en staatsinstellings is om plaaslik vervaardigde suiker te verkry
- Soos reeds uit verskeie oorde opklink, versoek die kwekersvereniging dat die regering die rabatte op diesel en petrol verhoog en dat beter belastingaansporings ingestel word vir diegene wat alternatiewe energiebronne gebruik.