Die prys van melkprodukte sal na verwagting vanjaar sywaarts beweeg hoewel periodieke stygings en dalings kan voorkom, sê die Suid-Afrikaanse Melkverwerkersorganisasie (Sampro). Volgens die organisasie se jongste verslag oor markneigings speel verskillende faktore tans ’n rol in die internasionale mark vir melkprodukte.
“Verskillende faktore, van politieke, ekonomiese en klimatologiese aard, bestaan tans wat onsekerheid veroorsaak. Die onsekerheid kan lei tot wisselvallige prysbewegings wat van tyd tot tyd die verwagte sywaartse beweging van pryse vanjaar kan oorskadu,” lui die verslag.
Wat rou melk pryse op internasionale vlak betref, sal die situasie eers werklik bepaal kan word in die tweede helfte van die jaar, wanneer die Noordelike Halfrond se produksietyd sy hoogtepunt bereik.
Die plaaslike mark
Sampro reken dat die weerstoestande en reënvalpatrone wat aan die einde van verlede jaar en die begin van vanjaar voorgekom het, bepalende faktore vir vanjaar se produksievlakke kan wees.
Die prysverlagings wat die bedryf verlede jaar getref het, die beweging van die produksieprysindeks van rou melk in vergelyking met ander landbouprodukte en die verwagte toekomstige prys van mielies sal volgens Sampro nie die volume van rou melk vanjaar verlaag nie.
Die bewegings van die kleinhandelprys van melkprodukte en die verbruikersvraag dui afwaartse druk op pryse aan. Volgens neigings wat verlede jaar aangeteken is, het laer pryse tot hoër verkope gelei.
Wat voorraad betref, het die verbruikersvraag verlede jaar vir agt van die nege melkprodukte wat op Statistiek SA se Produksieprys-indeks gelys is, ’n toename in vergelyking met 2009 se verkope aangeteken.
15 Maart 2011