
’n Super-ooi het vir ’n opskudding in die skaapkudde op ’n Vrystaatse plaas gesorg toe sy twee weke ná die geboorte van haar tweelinglammers nóg ’n tweeling opgelewer het.
Die verbaasde eienaars, mnr. Johannes Malan en sy seun, Nick, van die plaas Klipdrif in die distrik Kroonstad, vertel dat slegs twee dragtige ooie in ’n kampie by die huis vir bykomende voeding aangehou is.
Toe die ooie op 13 Oktober lam, het die een tweelingooitjies en die ander ’n enkellam gebaar. Hulle is daarna in afsonderlike kampies geplaas.
Moes ooi vashouMnr. Johannes Malan vertel dat dié Merino-ooi ’n week later begin ongemaklik raak het wanneer die tweeling wou suip. Nick moes die lammers help om te suip deur die ooi vas te hou.
Tot hulle verbasing ontdek hulle ’n week later, op 27 Oktober, nog ’n tweeling by die ooi – die keer rammetjies. Almal was volmaak geskape en sterk. Die eerste tweeling word nou by die huis hans groot gemaak, terwyl die ooi die rammetjies versorg.
Twee ervare skaapkundiges, mnre. Piet Heckroodt, ’n afgetrede skaapkundige van BKB by Kroonstad, en Giepie Calldo van CMW, het nog nie ’n soortgelyke geval teëgekom nie.
Prof. Gareth BathProf. Gareth Bath, emeritusprofessor van die fakulteit veeartsenykunde by Onderstepoort, sê die toestand superfetasie (Superfetation also spelled superfoetation) is ’n rare verskynsel wat wel by sommige spesies voorkom. Dit gebeur wanneer meer as een fetus in verskillende stadiums van ontwikkeling in dieselfde dier voorkom.
Malan senior vertel dat sy kudde al vantevore wel ’n vierling opgelewer het, maar almal is terselfdertyd gebore. Hy en van sy medeboere het wel al dit ondervind dat ooie met enkellammers wel dae later nog ’n lam gebaar het.
Die Malans gaan hul super-ooi se vordering nou met valkoë dophou.
Byskrif: Die ooi met haar vier lammers wat vir die opskudding op die plaas Klipdrif van mnr. Johannes Malan by Kroonstad gesorg het. Foto: Nick Malan