Die mag van die vier groot supermarkgroepe in Suid- Afrika is so groot dat dit ’n totale versperring is vir toetrede tot die waardeketting.
Só reken mnr. Bertus de Jongh, besturende direkteur, op die Vrystaatse Melkprodusente- organisasie (MPO) se kongres in Bloemfontein gesê. Hy het na die MPO se vroeëre klag hieroor ’n paar jaar gelede by die Mededingingskommissie verwys.
Te veel mag
Volgens hom vorder dié ondersoek net eenvoudig nie. Hy meen die supermarkte se mag is só groot dat hulle die proses voortdurend vertraag. Suid-Afrika se vier supermarkgroepe bedien 50 miljoen verbruikers en kry hul produkte van 40 000 boere. “Hulle is nie ’n kanaal nie. Hulle is ’n versperring,” het De Jongh gesê.
In die melkbedryf is die magsbalans ook heeltemal skeefgetrek, meen hy. Aan die een kant is 2 600 melkboere wat aan 360 kopers melk verskaf. Net vyf van dié kopers koop 60% van die totale melkproduksie. Hulle verskaf weer aan die handvol supermarkgroepe.
'Oor die draad'
Wat gewoonlik in só ’n “gekonsentreerde” marksituasie gebeur, is dat boere “oor die draad klim” na die koper-kant. Hulle raak ook in daardie deel van die bedryf betrokke in ’n poging om groter mag te bekom.
Dieselfde gebeur egter nie tussen die koper- en supermark- komponente nie omdat die supermarkte se oorheersing ’n totale versperring is, het De Jongh gesê.
29 Augustus 2011