Stappe gaan binnekort geneem word om die suur mynwater wat tans mynkomme oorspoel, te behandel, sê me. Edna Molewa, Minister van Waterwese en Omgewingsake.
Sy het tydens ‘n perskonferensie aan Landbou.com gesê dat oplossings vir dié probleem gevind is.
Molewa het vanoggend (15 Desember) met die komitee wat aangestel is om dié kwessie te ondersoek, vergader. “Ons het oplossings gevind, en nou moet daar gekyk word na hoe die mynwater van die westelike, oostelike en sentrale mynkomme behandel moet word. Die volumes moet gekwantifiseer word en daar gaan ook na befondsing gekyk moet word. Konsultasie met rolspelers sal ook van vandag af plaasvind.”
Sensitiewe saak
Die minister wou nie verder oor die saak uitbrei nie, maar het gesê daar sal in diepte aandag daaraan gegee word. “Dit is ‘n baie sensitiewe saak en ons wil nie ‘n vreesaanjaende en oproerige benadering hiervoor gebruik nie. Ons as die Regering besef dit is ‘n probleem en dat almal betrokke moet saamwerk en verantwoordelik moet optree.”
Intussen sê me. Mariette Liefferink, uitvoerende hoof van die Federasie vir ‘n Volhoubare Omgewing, die stappe wat nou by die westelike mynkom gedoen kan word is slegs reaktief en gaan “krisisbestuur” behels, “want dit is te laat om probleme daar te voorkom”.
Krisisbestuur
Sy sê met die reën wat tans in Gauteng val, vloei tussen agt en 10 miljoen liter onbehandelde suur mynwater daagliks uit die westelik mynkom in die land se ander riviere in. Dit is bo en behalwe die 12 miljoen liter suur mynwater – wat gedeeltelik behandel word maar steeds nie vir gebruik geskik is nie – wat daagliks dieselfde roete volg.
“Ons moet egter sê dit is bemoedigend dat die Regering erkenning gee aan die probleem en die erns van die saak. Ons hoop net die stappe word definitief deurgevoer en dat duidelike tydlyne en sperdatums voorgelê sal word vir die uitvoering van pligte en stappe. Graag sal ons ook wil weet wie vir die kostes van die behandeling en rehabilitasie van die beskadigde omgewing – soos in die Wes-Rand - verantwoordelik gehou gaan word,” aldus Liefferink.
15 Desember 2010