
’n Swaan van Velen in die weste van Duitsland het besluit ’n blou trekker is die liefde van sy lewe. Luidens ’n berig op Spiegel.de sê mnr. Hermann-Josef Hericks, die eienaar van die plaas waarop Schwani leef, die swaan het ’n paar jaar gelede besluit ’n blou trekker van 39 perdekrag is die liefde van sy lewe.
“Sedert ons die trekker drie jaar gelede gekoop het, volg Schwani die trekker orals waarheen dit gaan.” Volgens Hericks is dié swaan “bek-en-pootjies” verlief op die trekker.
Me. Daniela Fiutak, ’n dierekenner van Duitsland, sê Schwani het moontlik tydens puberteit kontak gehad met trekkers wat tot sy vreemde liefde gelei het.
’n Swaan-boot
Dit is egter nie die eerste keer wat ’n swaan ’n buitegewone liefdesverhouding aanknoop nie. Luidens ’n berig op ABC News het Petra, ’n swaan in die dieretuin in Muenster, drie jaar gelede baie geheg geraak aan ’n boot in die vorm van ’n groot wit swaan.
Haar verhouding met die boot het gevolg nadat haar aanvanklike maat, ’n wit swaan, haar verlaat het om die geselskap van ander wit swane op te soek. Haar hart was gebreek en sy was uiters geïrriteerd totdat dié boot op die meer laat vaar is in ’n poging om haar te kalmeer. Sy het nooit die boot uit haar sig laat verdwyn nie.
’n Rubberstewel
Intussen berig Spiegel.de ook dat ’n pikkewyn van die Sea Life Constance-akwarium in die suide van Duitsland vreemd optree teenoor een van sy afrigter se rubberstewels.
Die gentoo-pikkewyn, wat Bonaparte gedoop is, se liefde het meer onlangs ontwikkel. Mnr. Dennis Kübler, sy afrigter, sê: “Ek het nog nooit so iets gesien nie.”
Die stewel is swart, met ’n wit en swart gestreepte sool. Een van die verduidelikings vir Bonaparte se liefde is dat die sool soos ’n pikkewyn lyk wat lê, derhalwe dink hy moontlik dit is ook ’n pikkewyn.
12 April 2011