
Teenstortingstariewe is vir vyf jaar ingestel vir bevrore aartappelskyfies uit die Lae Lande. Dit volg ná ’n ondersoek van die Internasionale Kommissie vir Handselsadministrasie (Itac) bevind het maatskappye in België en Nederland maak hulle skuldig aan storting – soos uiteengesit deur die Wêreldhandelsorganisasie (WHO).
Dr. André Jooste, uitvoerende hoof van Aartappels SA, sê alle skyfies uit België sal onderwerp word aan ’n algemene teenstortingstarief van 30,77%, en laer tariewe vir die Belgiese maatskappye PinguinLutosa (5,81%), Clarebout Potatoes (8,28%), Mydibel Foods (15,6%) en Agristo (0%).
’n Algemene teenstortingstarief van 16,42% sal geld op alle Nederlandse skyfies, met teenstortingstariewe op die maatskappye Lamb Weston (0%), Agristo (12,52%) en Farm Frites (16,42%). Jooste sê die teenstortingstarief sal vyf jaar lank geld vanaf die datum van aankondiging.
Dit sal dus op 20 Oktober 2021 verval, waarna dit hersien kan word as dit steeds blyk dat die speelveld vir die plaaslike bedryf nie gelyk is nie.
Werkgeleenthede
Voorlopige tariewe wat die plaaslike mark beskerm, het vanaf 4 Julie 2014 tot 5 Julie vanjaar gegeld. Vanaf 2014 tot 4 Julie verlede jaar was die tarief 40,92%. Vanaf 5 Julie verlede jaar tot 4 Julie vanjaar was dit 20,45%.
Jooste sê die plaaslike bedryf skep tot 60 000 werkgeleenthede en lewer aartappels regdeur die jaar – en dit op minder as 1% van die land se landbougrond. “Rondom 2010 het die bedryf opgemerk dat daar ’n betekenisvolle toename in die invoer van bevrore aartappelskyfies vanaf Europa was. Dit het ’n wesenlike bedreiging vir die plaaslike bedryf ingehou en doen dit steeds,” sê Jooste.
Maatskappye in die betrokke lande wat kan bewys dat hulle nié prysdiskriminasie toepas nie, word vrygestel van die tarief of kan gedurende die ondersoek aansoek doen om ’n verlaagde tarief.
Tariewe werk
Jooste sê die voorlopige tariewe wat tot Julie vanjaar in werking was het wel die plaaslike bedryf beskerm. “Nadat die voorlopige beskermende tariewe in 2013 in werking gestel is, het invoer ’n duidelike afname getoon. Vanaf 2010 tot en met 2012 het die jaarlikse invoer van 30 000 ton tot 47 000 gewissel, maar nadat die tariewe in werking gestel is, het die invoer van 14 000 ton tot 20 000 ton gewissel,” sê hy.
Die daling in invoer het die produksie van plaaslike aartappels bevoordeel. Plaaslike invoerders van bevrore aartappelskyfies bevraagteken egter die tariewe. “Om ’n teenstortingstarief in te stel moet daar ’n oorsaaklike verband tussen die storting in 2014 en die skade wees.
Selfs al kan ’n verband gevind word vir die tydperk waarin die stortingsondersoek plaasgevind het, sal dit ten beste ’n baie vae skakel wees,” sê mnr. Donald MacKay, besturende direkteur van XA Trade Advisors, wat van die invoerders verteenwoordig.