
Hoewel boere in groot dele van die droogtegeteisterde Noord-Kaap verheug is oor die goeie reën wat onlangs uitgesak het, het dit rosyntjieboere in die Benede-Oranjerivierstreek vir die tweede jaar agtereenvolgens hard geslaan en hul hoop op ’n rekordoes gekelder.
Op sommige plekke oos van Upington het dit sedert die aanbreek van die nuwe jaar al 200 mm gereën. Kultivars soos sultanas was in finale stadium van rypheid toe die hemelsluise oopgaan.
“Daai druiwe is kapoet. Sommige boere byt nog vas en hoop hulle kan iets oes, maar baie boere het besluit om dit eerder na die kelders toe aan te ry vir versapping. Wat winsgewendheid betref, kan jy dit nie vergelyk met droogdruiwe nie, maar hulle het besluit om eerder die paar sent te vat as niks nie,” sê mnr. Henning Burger, bestuurder van wingerdboukundige dienste by Oranjerivier-wynkelders.
Boere moet nou bontstaan om te keer dat botritis in die wingerd versprei – ’n taak wat bemoeilik word deur die hoë humiditeit. Veral in gebiede oos van Upington is daar groot probleme op sultanas.
“Sultanas is geneig tot ringnek-barsies (waar die stingel in die korrel heg), maar vanjaar kom barse oor die lengte van die korrel meer voor. Ons skryf dit toe aan die geweldige warm temperature in Desember voor die klomp reën geval het.”
Rekordoes in sy maai
Burger meen daar het een van die grootste rosyntjie-oeste tot op hede aan die stokke gehang, voor die reën uitgesak het.
“Ek dink die oes was sowat 10% groter as verlede jaar. Hier sit nog steeds baie druiwe, maar daar is beslis verliese. Daar word nog baie reën vir volgende week voorspel, wat verdere verliese kan veroorsaak.”
Burger sê rosyntjieboere het verlede jaar meer gely as wat die geval tot dusver is vanjaar. Die reën het verlede jaar eers op 18 Januarie uitgesak, toe die druiwe heelwat soeter was. Dit het ook oor ’n groter gebied amok gemaak.
Swaar neerslae in ooste
Volgens Burger het die gebiede oos van Upington - Kanoneiland, Grootdrink en Groblershoop - swaar neerslae aangeteken. Op sommige plekke het dit 160 mm binne 24 uur gereën. Upington en die westelike gebiede van Keimoes en Kakamas, het ook ’n bietjie reën gehad, maar nie soveel soos hul bure aan die ander kant van die dorp nie.
Burger sê die reën het kort na nuwejaarsdag begin val. “Dit was baie gelokaliseerd. Op plekke het daar ontsettende groot hoeveelhede reën geval en ’n klein entjie verder baie minder.” Hy sê dis buitengewone weersomstandighede vir Januarie. “Ons is gewoond aan donderstorms en reën in oestyd, maar gewoonlik kom dit eers laat in Februarie voor. Nou het ons al vir ’n week aanmekaar reën gehad.”
Wynboere hou asem op
Tot dusver kon wynboere darem skade vryspring, maar hulle hou nou asem op dat hulle nie in dieselfde bootjie as die rosyntjieprodusente gaan wees wanneer parstyd oor ’n paar weke in volle swang is nie.
“Ons pars het hierdie week op Kakamas begin, waar die wingerde droog gebly het as gevolg van die min reën. In die versuipte oostelike streke is die wyndruiwe se suikers nog laag. As dit ryp was, sou dit ’n groot probleem vir die pars veroorsaak het.”
Hy sê hoewel daar minder wyndruifaanplantings is, verwag hulle ’n oes van normale grootte. “Die opbrengs per ha behoort te styg sodat ons by dieselfde oes uitkom.”
Wynprodusente moet wel op die uitkyk wees vir donsskimmel en die plaag goed bestuur. “Die wyndruiwe sal hopelik in droër toestande oor die komende paar weke ryp word,” sê Burger.