
Waarskuwings oor swaar reënval en oorstromings oor die Kaapse metropool, die Overberg, die Wynlande en die suidelike gedeeltes van die Weskus is vir vandag (Vrydag) en môre deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens uitgereik.
Bitter koue toestande word oor die hele Wes-Kaap en Noord-Kaapse binneland verwag, berig Die Burger.
Stormsterk noordwestewinde van 65 tot 74 km per uur laasnag tussen Kaappunt en Kaap Agulhas sou na verwagting ook verder na die Karoo uitbrei met 'n uiterste brandgevaar wat vandag oor die Karoogedeeltes van die westelike en noordelike Kaap verwag word. Volgens die Weerdiens sal brande hier weens winderige toestande vining versprei en omdat baie min reënval die afgelope tyd hier geval het, verhoog dit die brandgevaar.
Ontwrigtende sneeuval word ook Saterdag oor die hoërliggende westelike gedeeltes van die Wes-Kaap en oor die suidelike hoërliggende gedeeltes van die Noord-Kaap verwag.
Volgens Volksblad word geen sneeu vir die Vrystaat voorspel nie, maar sneeu sal na verwagting teen Saterdagmiddag op Lesotho se berge, asook die Drakensberg in die Oos-Kaap val.
Weens gevaarlike omstandighede op bergpasse en padsluitings word verkeersvertragings verwag en mense word gemaan om versigtig te bestuur.
Bron: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens, Die Burger en Volksblad.