
Talle boere in die noordelike dele van die Vrystaat doen skade-opnames ná swaar reën en hael oor die naweek sporadies voorgekom het.
Vrystaat Landbou sê in 'n nuusverklaring in die Parys-distrik het neerslae van 30 mm tot 200 mm binne vier ure op Vrydagmiddag, 11 November 2016, voorgekom.
Mnr. Kobus Dannhauser, voorsitter van die Parys Boerevereniging, sê sporadiese wolkbreuke het oor gebiede voorgekom. “Een boer het 30 mm oor vier ure gemeet, 'n ander 100 mm oor dieselfde tydperk en nog 'n ander 200 mm.” Die reën volg op sowat 250 mm wat die vorige drie weke oor dele van die gebied geval het.
Plaasdamme is almal vol
“Ten spyte van die skade is ons ongelooflik dankbaar! Die plaasdamme is almal vol, die Vaalrivier loop mooi en ons is dankbaar dat ons kan weet die Bloemhof-dam kan nou aangevul word,” aldus Dannhauser.
Sowat 80% van boere in die distrik is reeds klaar geplant, en veral sojaboon-aanplantings het erge haelskade. Talle landerye het ook spoelskade en store se dakke het afgewaai of op implemente ineengestort.
Mnr. Herman Weiss, voorsitter van die Greenlands Boerevereniging naby Koppies, sê talle plaas- en werkershuise se dakke het ook in dié omgewing afgewaai of ingegee, terwyl ander huise oorstroom het. “Van 120mm tot 150mm het oor dele van die distrik uitgesak, en ons is baie dankbaar vir elke druppel.”
Wild deur hael doodgeslaan
Intussen het sowat 60 stuks wild op mnr. Koos van Niekerk, ’n lid van Gottenburg Boerevereniging noord van Heilbron, se plaas gevrek. Van die diere is deur hael doodgeslaan, en ander het verdrink. Van Niekerk sê tot 236mm het binne 24 uur in die omgewing geval.
In die Bothaville en Wesselsbron distrik is skade-opnames ook onderweg, veral op koring-aanplantings wat deur hael getref is. Tussen 60mm en 100mm is Vrydagmiddag in die omgewing gemeet, en hael het ook sporadies voorgekom.
Verder wes en in die westelike en suidelike dele van die Vrystaat het talle landbouers steeds geen noemenswaardige reën ontvang nie, dus het die droogte die landbouers steeds in sy greep.
* Lees die volledige nuusverklaring, plus foto’s van die skade, op Vrystaat Landbou se webwerf.