
Von Kleist se vriendin, me. Sonja Joubert, is tydens die voorval gewond.
Die drie mans is skuldig bevind op klagte van moord, poging tot moord, sameswering tot moord, roof met verswarende omstandighede en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen. Al drie is lewenslange tronkstraf opgelê vir moord, 8 jaar vir sameswering tot moord, 5 jaar vir poging tot moord en 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede. Die vonnisse word gelyklopend uitgedien.
‘n Plaaslike koerant, Die Kwêvoël, het destyds berig dat Von Kleist en Joubert die aand televisie gekyk het toe hulle skote op die werf hoor. Die aanvallers het deur die voordeur se glasvenster op die twee geskiet. Joubert is twee keer raakgeskiet, in haar arm en skouer, maar Von Kleist is in sy bolyf geskiet en het op die toneel aan sy wonde beswyk. Die aanvallers het later ook op die plaaseienaar se seun geskiet en hom in sy been gewond.
Oud-kol. Gawie Louwrens wat deesdae Bosveld Misdaad Ondersoeke, ’n onafhanklike ondersoekdiens bedryf en spesialiseer in landelike misdaad, sê hy en sy span is baie dankbaar vir die swaar vonnisse wat opgelê is.
Een van die aanvallers, Constantino Masivhe, is skuldig bevind op klagte van moord, poging tot moord, sameswering tot moord en roof met verswarende omstandighede. Die ander twee, Innocent Khumalo en Benjamin Jambani, is onder meer skuldig bevind op klagte van moord, poging tot moord, sameswering tot moord, roof met verswarende omstandighede en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen.
“Die verdagtes is ná baie harde ure se werk opgespoor en in hegtenis geneem. Van hulle het ontsnap, maar hulle is mettertyd weer in hegtenis geneem,” sê Louwrens.