Verkeerde besluite is waarskynlik die melkboer se grootste risikofaktor.
Verkeerde besluitneming het waarskynlik ook daartoe bygedra dat van die 20 000 melkboere sowat 20 jaar gelede, nog net sowat 2 600 oor is, het dr. Jan du Preez, besturende direkteur van die Instituut vir Suiweltegnologie van die Melkprodusente-organisasie (MPO), op Caledon gesê.
Minder boere, meer melk
Du Preez het op ’n MPO-inligtingsdag gesê hoewel die getal melkboere drasties afgeneem het, produseer die oorblywende boere aansienlik meer melk. Melkboere is ondernemende mense en is deel van die 1% mense in die land wat werk skep.
Hulle is egter blootgestel aan eindelose risiko’s, waarvan verkeerde besluitneming waarskynlik die belangrikste is. Ander risikofaktore is dieregesondheid, watergehalte, arbeid, swak voervloeiprobleme, swak sakestrukture en -rekordhouding, kontantvloei en vele ander.
Tog hang 80% van sukses in ’n melkboerdery af van passie en 20% van intelligensie.
Verkeerde besluite
Du Preez sê verkeerde besluitneming sluit in aspekte soos om te veel geld aan uitbreidings tegelyk te bestee, te veel koeie te koop, nie genoeg aandag aan hul gesondheid, inenting- en doseringsprogramme te gee nie en te min ervaring wanneer ’n sakeman wat niks van melkboerdery weet nie, op groot skaal tot die bedryf toetree. Sulke dinge gebeur daagliks.
Dikwels is boere ook hul eie grootste vyand omdat hulle nie genoeg huiswerk doen voor hulle besluite neem nie – en dit terwyl die goeie inligting beskikbaar is. Du Preez sê die suiwelbesigheid is ingewikkeld en word dikwels onderskat.
Emosionele bagasie, wat ongelukkigheid in ’n familieboerdery veroorsaak, lei ook dikwels tot verkeerde en emosionele besluite. Dit sal boere ook loon om hul werkers erkenning te gee vir goeie diens en prestasies, want wisselwerking tussen die boer en sy werkers is ’n sleutel tot sukses en goeie besluitneming.
24 Oktober 2011