
Bouwerk aan die Clanwilliam- en die Umzimvubu-dam sal voortgaan, te midde van slegte skuld en swak finansiële bestuur wat R7 miljard uit die Departement van Water en Sanitasie se huidige begroting van R15,1 miljard sal vreet.
Dit het uitgekom toe die departement sy geldelike treurmare, wat sal meebring dat verskeie broodnodige projekte vir waterinfrastruktuur by munisipaliteite nie van die grond af sal kom nie, aan die Parlement se portefeuljekomitee vir water en sanitasie moes verduidelik.
Die komitee wou weet watter projekte die departement gaan sny siende dat hy die Reserwebank R2,9 miljard, kontrakteurs R1,5 miljard en die Waterrade sowat R400 miljoen skuld én boonop ’n tekort van R2 miljard op sy begroting het vir ander dienste wat hy van die waterhandelsentiteit gaan oorneem.
Geldelike nood
Die departement se begroting vir die ontwikkeling van waterinfrastruktuur is R12,2 miljard en sy totale begroting vir die geldjaar is R15,1 miljard. Om sy geldelike nood te verlig wil die departement munisipaliteite se versnelde projekte vir gemeenskappe se sinfrastruktuur en die toelae vir infrastruktuur vir waterdienste wat nog nie mee begin is nie, op ys plaas sodat die geld gebruik kan word om die R1,5 miljard te betaal wat aan kontrakteurs betaal word.
Me. Pamela Tshwete, adjunkminister vir Water en Sanitasie, het haar versekering aan die komitee gegee dat sekere nuwe projekte soos die Umzimvubu-dam en die Clanwilliam-dam nie gestaak sal word nie. “Hierdie projekte sal nie gestaak word nie. Ons gaan seker maak ons doen die werk daar.”
Uit die droogte is gesien hoe belangrik dit is vir die land om sy waterinfrastruktuur te onderhou.
Domino-effek
Mnr. Leon Basson, die DA se adjunk-skaduminister vir water en sanitasie, het gesê die probleem is dat projekte wat in die huidige geldjaar gedoen moes word, eers in die volgende een kan begin. Dit bring ’n domino-effek mee wat ’n situasie kan skep waar infrastruktuur in duie gaan stort omdat daar nie geld was om hulle in stand te hou nie.
Hy sê die totale kapasiteit van die 824 rioolwerke in Suid-Afrika is 6000 miljoen liter per dag. Tans ontvang die rioolwerke 5000 miljoen riool per dag. Altesaam 84% van die 5000 miljoen liter voldoen nie aan die standaard nie en dus word 4200 miljoen gestort in 82% van die land se riviere.
Basson het gesê dié soort krisis kan nie aangespreek word as die departement swak bestuur word nie.
Betaal kontrakteurs
Die DA het gevra dat die Nasionale Tesourie moet kyk of hy nie die departement ’n ekstra R1,5 miljard kan bewillig vir die betaal van die kontrakteurs nie, sodat die munisipaliteite kan voortgaan met die projekte waarvoor hulle begroot het.
Basson het gesê dié soort krisis kan nie aangespreek word as die departement swak bestuur word nie.
Die DA het gevra dat die Nasionale Tesourie moet kyk of hy nie die departement ’n ekstra R1,5 miljard kan bewillig vir die betaal van die kontrakteurs nie, sodat die munisipaliteite kan voortgaan met die projekte waarvoor hulle begroot het.