Landbou- en landelike infrastruktuur gaan só vinnig agteruit dat die land op die rand van ’n nasionale krisis staan.
Dit raak die koste om sake te doen só ernstig dat dit winsgewendheid en mededingendheid in die gedrang bring. Mnr. Thinus Ferreira, Agri SA se raadgewer oor infrastruktuur, het op die kongres gewaarsku dat infrastruktuur ’n deurslaggewende rol speel in die ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling van die land as ’n geheel.
Net wat die padnetwerk betref, het 75% van die paaie al hul ontwerpleeftyd van 20 jaar oorskry. Sowat 40% van die provinsiale padnetwerk is al by ’n krisispunt en die agterstand met onderhoud beloop R126 miljard. Die skade wat padgebruikers weens slegte paaie ly, beloop R20 miljard per jaar.
Ferreira sê tot 80% van alle vrag word op paaie vervoer en die druk op die padnetwerk is ondraaglik. Wat kommunikasie-infrastruktuur betref, is boere in talle gebiede vir maande, en enkele gevalle selfs langer as ’n jaar, sonder Telkomverbindings.
Kabeldiefstal
Op ’n onlangse vergadering met Agri SA het Telkom aangedui dat vastelyn- tegnologie in yl-bevolkte landelike gebiede afneem, veral weens onkeerbare kabeldiefstal. ’n Nuwe satellietplatform is as ’n moontlike oplossing vir landelike gebiede geïdentifiseer.
Hy sê dit sal meer bekostigbaar as die huidige “VSAT”-platform wees en vanaf volgende jaar beskikbaar gestel word. Mnr. Henk Vermeulen, ondervoorsitter van die beleidskomitee vir arbeid- en maatskaplike sake, het gesê boere moet meer fokus op die bestuur van probleme as om hulle blind te staar teen die omvang daarvan.
Die werklikhede van die landbou moet ook in ag geneem word. Hy sê volgens statistiek van 2007 was 56% van die 39 000 kommersiële boere in daardie stadium se omset minder as R500 000 per jaar. Dit is klein boere wat ’n stryd voer om te bestaan en moeilik bykomende werkers in diens kan neem.
24 Oktober 2011