Swak paaie wat onder meer vibrasies veroorsaak wanneer veral vars produkte vervoer word, lei tot miljoene rande se skade vir boere, aldus ’n verslag.
Luidens ’n berig in die Volksblad word veral die vars produkte bedrywe deur dié neiging geraak. ’n Verslag wat deur die WNNR, Imperial Logistics en die Universiteit Stellenbosch saamgestel is, dui aan dat dié vibrasies die graanbedryf jaarliks sowat R2,5 miljoen laat inboet.
Volgens die verslag word die meeste skade aangerig wanneer vars produkte op grondpaaie vervoer word, want vrugte wat weens vervoer op swak paaie gekneus word, lei tot reuse-verliese. Al dié verliese sluit nog nie die skade in wat aan voertuie gedoen word nie.
Uitdaging
Mnr. Hans van der Merwe, hoof uitvoerende beampte van Agri SA, sê boere ly “enorme verliese”, veral in Mpumalanga waar paaie ál meer agteruitgaan weens toenemende mynaktiwiteite. “Alles gaan oor die koste en gemak om sake te doen. As jy meer vibrasies het met die vervoer van produkte, is daar groter vermorsing. Dit is ’n enorme uitdaging.”
Prof. André Jooste, senior bestuurder van die Nasionale Landboubemarkingsraad, sê ondoeltreffende vervoer lei ook tot hoër voedselpryse. “Die spoorvervoerstelsel kan ’n baie groot rol speel om die probleem op te los.”
Die verslag dui aan dat die R262 miljard wat die Regering opsy gesit het vir vervoer- en logistieke projekte, prysenswaardig is, maar solank die paaie nie verbeter nie, word die land se vlak van mededinging belemmer.
Bron: Volksblad
24 Mei 2012