
Die swak toestand van paaie en algemene infrastruktuur in KwaZulu-Natal se landelike gebiede is nie net nadelig vir voedselsekerheid nie, maar ook vir ekonomiese groei, het die KwaZulu-Natalse Landbou-unie (Kwanalu) bevind in ’n meningsopname wat onlangs onder sy lede gedoen is.
Me. Sandy la Marque, uitvoerende hoof van Kwanalu, sê die opname het bevestig dat ’n ernstige agterstand met die onderhoud en opknapping van paaie die beweging van goedere na en van landbou- en landelike gebiede verhinder en in sommige gevalle totaal kniehalter.
“Die katastrofiese toestand van landelike infrastruktuur, veral paaie, het ’n direkte impak op handel-, landbou- en toerismeroetes regdeur die provinsie en veroorsaak ’n noemenswaardige uitkringeffek vir die algehele ekonomie.
“Die noodsaaklike beweging van goedere en dienste is ’n belangrike faktor om voedselsekerheid te verseker. Die impak op die ekonomie, die koste van besigheid doen, die produksie van voedsel en vesel, indiensneming, veilige deurgang vir almal en die vermoë om goedere en dienste na markte en ander bestemmings te beweeg, is onder druk. Dit verhinder geleenthede vir ekonomiese groei, asook die volhoubaarheid en lewensvatbaarheid van sakegeleenthede.”
Volgens die opname meen 76% van die deelnemers dat die provinsie se paaie in hul distrikte in ’n swak toestand is met slaggate, ongelyke padoppervlakke, ’n tekort aan gruis op padskouers en oorgroeide plantegroei wat sigbaarheid belemmer.
Terwyl 56% van die deelnemers aangedui het dat onderhoud en herstelwerk aan sommige paaie gedoen is, het 79% aangedui dat die gehalte van kontrakteurs se werk swak was.
La Marque sê ’n kollektiewe poging op distriksvlak is nodig om dié kwessies aan te pak. Daarom sal Kwanalu ’n padveldtog onderneem om deur die relevante strukture te werk te gaan. Vergaderings met staatsamptenare is reeds belê en op Woensdag 13 April sal Kwanalu ’n webinaar aanbied om wetlike en praktiese steun en raad te voorsien.
Belanghebbendes vanuit alle vlakke van die voorsienings- en waardeketting word aangemoedig om swak padtoestande aan te meld sodat die herstel en onderhoud van infrastruktuur voorrang kry.
“Die regering, munisipaliteite, belanghebbendes en ander leiers moet op alle vlakke saamwerk om te verseker dat na infrastruktuur omgesien word, terwyl die implikasies van gebrekkige infrastruktuur in gedagte gehou word. Wanneer ons saamwerk, kan ons meer gedoen kry,” sê La Marque.