Die verswakkende rand het die wolmark op vandeesweek se veiling ondersteun en Cape Wools se Merino-aanwyser het met 1,1% tot R97,61/kg (skoon) gestyg. Dit is 0,3% hoër as verlede seisoen se hoogste vlak.
Onderwyl beleggers uit ontwikkelende ekonomieë, soos Suid-Afrika, onttrek te midde van die groot onsekerhede op die wêreldmarkte, sukkel die rand teen die belangrikste geldeenhede en het dit tot sy laagste vlak in maande teenoor die Amerikaanse dollar gedaal. Die rand het 5% van sy waarde teenoor die Amerikaanse geldeenheid verloor vergeleke met verlede week se gemiddelde koers.
In Australië, waar die geldeenheid nie soveel waarde verloor het nie, het die aanwyser met meer as 1% teruggesak.
Altesaam 97,5% van die 7 538 bale wat aangebied is, is op die Baaise veiling verkoop.
Die pryse van die meeste langwoltipes het gestyg, maar 19 mikron het die grootste styging aangeteken. Die gemiddelde skoonwolpryse van die lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) pryse was soos volg: 19 mikron verbeter met 1,8% tot R119,24/kg, 20 mikron was 0,9% duurder op R106,41/kg, 21 mikron styg met 1,1% tot R101,93/kg en 22 mikron verstewig met 1,3% tot R97,12/kg.
Sowat 5 400 bale kom volgende week onder die hamer.
21 September 2011