
Onvoldoende en besoedelde water het ’n regstreekse impak op huishoudings in die stedelike gebiede, maar ook op boerderye. Almal in Suid-Afrika behoort saam te werk om dié probleem te takel.
Die puik produksietoestande in sekere landbougebiede wat tot dusver vanjaar beleef word, is ’n welkome uitkoms. Die droogte is egter nog nie gebreek nie.
Die Lesotho-streek is in ’n groot mate Suid-Afrika se water-enjin. Dié watertoevoer word deur sneeuneerslae aangevul. Weens die droogtetoestande die voorafgaande drie jaar was daar egter nie genoeg sneeu om dié water aan te vul nie. Dit het daartoe gelei dat produsente se watertoedeling uit die Oranjerivierskema vir die eerste keer sedert die voltooiing daarvan in die sewentigerjare tans met 15% ingekort word.
Die beskikbaarheid en gehalte van besproeiingswater vir toekomstige voedselproduksie raak toenemend ’n bekommernis. Dit kan ’n regstreekse impak op landboubeleggers hê wat in besproeiingsgrond en die produksie van voedsel wil belê.
Baie water verlore
Water word uit die Lesotho-hooglandskema vrygelaat aan Randwater, wat water aan Gauteng en omliggende dorpe voorsien. Na raming gaan 250 miljoen m3 water egter jaarliks verlore weens ongemagtigde onttrekkings van water in die Vaaldam se opvanggebied.
Die Departement van Waterwese het ’n opname gedoen om ongemagtigde waterverbruikers stroomop van die Vaaldam te identifiseer. Diegene wat die Waterwet oortree, kan in die toekoms vervolg word. Voorheen besproeide grond wat ongemagtig besproei was, kan dan ook aan produksie onttrek word.
Vloedbesproeiing is ’n uiters ondoeltreffende gebruik van Suid-Afrika se skaars waterbronne. Doeltreffende metodes, soos gemeganiseerde, mikro- of drupbesproeiingstelsels, moet eerder bevorder word omdat dit water beter benut.
’n Groot klomp water gaan ook in grondkanale verlore. Besproeiingsrade en watergebruikersverenigings behoort grondkanale met beton uit te voer om water te bespaar. Volgens die Waterwet behoort surpluswater terug toegedeel te word aan ander gebruikers in die skema indien die water nie ten volle benut word nie.
Doelftreffende gewasse
Produsente in sekere skemas skakel oor na doeltreffender gewasse en benut beter skedulering- en besproeiingstelsels. Ander besproei weer net snags wanneer dit koeler en verdamping minder is. Dit gebeur egter ook dat produsente wat waterbeskikbaar stel deur oeste doeltreffender te lewer, horisontaal uitbrei en bykomende hektare onder besproeiing vestig wat nie oorspronklik daarvoor toegedeel is nie.
Die Vaaldam se vlak is nie altyd ’n aanduiding van die beskikbare water ná die droogte nie. Die Vaaldam is maar een skakel in ’n ingewikkelde web van damme, tonnels en oordragskemas, wat as ’n geheel bedryf word. Die Vaaldam se groot wateroppervlakte dra by tot groot waterverlies weens verdamping. Daarom behoort die dam se vlak eerder laer bestuur te word, ook om voorsiening te maak vir doeltreffende vloedbestuur.
’n Groot persentasie van die water in die Vaalrivier stroomaf van die Vaaldam is afkomstig uit rioolsuiweringswerke. Die grootste gros van dié waterwerke funksioneer nie soos hulle moet nie. Die Vaaldam het in die verlede meer gereeld skoon water vrygelaat ná reënval om die impak van die besoedelde water stroomaf te verminder. Tydens die opbou van die droogte die afgelope drie tot vier jaar was die uitvloei uit die Vaaldam ontoereikend om die besoedeling stroomaf meer gereeld te “verdun”. Die invloei uit sytakke van die Vaalrivier was weens die droogte ook heelwat minder en dikwels ook besoedel.
Gesuiwerde water
Die Hartbeespoortdam word aangevul deur gesuiwerde water uit die waterwerke van die stede in die dam se opvanggebied. Die totale sameloop van die water na die Hartbeespoortdam lei daartoe dat die vlakke van besoedeling verhoog. Die ideaal sal wees dat die water gesuiwer word voor dit die dam bereik, wat natuurlik nie haalbaar is nie. Produsente wat stroomaf van die Hartbeespoortdam by besproeiing betrokke is, is uitgelewer aan die swak gehalte van verwerkte water wat stroomop van die dam af inloop en dan uit die dam gelaat word.
Die vlak van besoedeling in sekere gedeeltes van Suid-Afrika se riviere is heeltemal onaanvaarbaar. Water uit rioolwerke voldoen gereeld nie aan die nasionale standaarde daarvoor nie. Die afloopwater uit digbeboude informele nedersettings naby vleie en strome besoedel waterhulpbronne regstreeks.
Waar water nie voldoende behandel word nie, kan die vlakke van ernstige besoedelingsagente, soos estrogeen, Escherichia coli, gifstowwe en swaarmetale,die gesondheid van mense in die omgewing wat dié water gebruik, ernstig benadeel. Verder verhoog dit die risiko dat gewasse afgekeur kan word vir bemarking, wat tot ’n verlies aan inkomste kan lei.
Nog ’n bron van besoedeling wat ernstig kan wees en aandag moet geniet, is die terugvloei van besproeiingswater na die strome en riviere wat dan chemikalieë, soos kunsmis en plaagdoders, bevat.
Sluit aan by boerevereniging
Produsente moet seker maak gewasse word besproei met net genoeg en skoon besproeiingswater. Produsente moet die regte ding doen en by die plaaslike boerevereniging aansluit. Hulle moet deel raak van die provinsiale en nasionale strukture van die georganiseerde landbou.
Produsente moet steun in die gemeenskap werf en druk op munisipaliteite stroomop plaas om kundige personeel by waterwerke aan te stel. Dit gaan nie sonder die gemeenskap se ingryping verander nie. Dit is ook nie regverdig dat voedselproduksie ingekort word weens die swak bestuur van waterwerke op munisipale vlak nie.
Die situasie kan vinnig omgekeer word as waterwerke deur goed opgeleide personeel bestuur word. Ons moet egter ook die opvatting oor die landbou se benutting van water vir besproeiing verbeter. Produsente moet daarna streef om ondoeltreffende besproeiingspraktyke uit te skakel, water te bespaar en besoedeling te verhoed.
* Wessel Lemmer is ’n senior ekonoom by Absa-Agribesigheid.