
Goeie mededinging en ’n swakker rand op die veilingsdag het die mark ondersteun en Cape Wools se Merino-aanwyser het met 1,9% gestyg om op R115,44/kg (skoon) te sluit.
Dit is steeds 3,4% hoër as op die openingsveiling en 3,1% hoër as die ooreenstemmende verkope van die vorige seisoen. Op die Australiese mark het die aanwyser met 1,2% gestyg, sê me. Ria van Rooyen van Cape Wools.
Goeie mededinging vir beter gehalte kamwol tipes het geheers en kopers het minder gesogte en tenger wol teen effe laer pryse aangekoop.
Die rand het 2,6% teenoor die Amerikaanse dollar verswak vergeleke met die gemiddelde koers op die vorige week se veiling en het op R10,97 gesluit.
’n Verkoopspersentasie van 98 is aangeteken van die 9 722 bale wat op die veiling aangebied was. Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA (3 358), Lempriere SA (1 696), G Modiano SA (1 468) en Stucken & Co (1 447).
Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg: 18 mikron styg met 2,1% tot R128,01/kg, 19 mikron versterk met 2,2% tot R121,10/kg, 20 mikron styg met 1,7% en sluit op R116,28/kg, 21 mikron versterk met 2,0% en sluit op R114,05/kg en 22 mikron styg met 1,1% tot R113,02/kg.
Die volgende veiling is op 17 September.