
Die invloed wat moontlike kwantitatiewe verruiming deur die Europese Sentrale Bank op Suid-Afrika se landbou-uitvoer na die streek kan hê, sal afhang van hoeveel sulke stappe die euro laat verswak.
Dr. John Purchase, hoof uitvoerende beampte van die landbousakekamer Agbiz, sê as die euro baie verswak, kan dit landbou-uitvoer benadeel, maar omdat die rand na verwagting self nog verder gaan verswak, verwag hy nie 'n groot invloed nie.
Purchase sê hoewel Europa as mark vir Suid-Afrikaanse landbou-uitvoer krimp, bly dit steeds 'n baie belangrike afsetgebied.
Bespiegelings dat die Europese Sentrale Bank (ESB) kwantitatiewe verruiming oorweeg, het die euro vroeg vanjaar skerp teen die Amerikaanse dollar laat verswak.
Kwantitatiewe verruiming behels dat 'n land se sentrale bank stappe doen wat meer geld in omloop bring en wat dan, soos in Amerika gebeur het waar dit as teenvoeter vir 'n resessie toegepas is, die land se geldeenheid laat verswak.
Purchase sê die grootte van die moontlike kwantitatiewe verruiming deur die ESB sal bepaal hoeveel die euro teen die rand verswak.
Die rand se waarde word egter tot groot mate deur twee ander faktore geraak: Die feit dat ontluikende markte internasionaal in 'n slegte lig beskou word wat beleggers hul geld uit sulke lande laat onttrek; en die Suid-Afrikaanse ekonomie wat swak presteer.
Mnr. Donald MacKay, direkteur van XA International Trade Advisors, sê die goue reël bly om uitvoer te diversifiseer, sodat gebeure in een land nie 'n oorweldigende invloed op 'n onderneming se uitvoer het nie.
Hy is bekommerd dat Suid-Afrika weens hoë arbeids- en elektrisiteitskoste reeds nie mededingend genoeg is vir uitvoer nie en dat 'n swakker euro die land se uitvoer na die EU kan benadeel.
Produkte se pryse is egter nie die enigste faktor nie. MacKay sê hoewel die rand die afgelope paar jaar met 40% tot 50% teenoor die euro verswak het, het uitvoer na die EU nie in dieselfde mate toegeneem nie. Wat ander lande doen om hul uitvoer te bevorder, speel onder meer 'n rol.
Suid-Afrika het al 14 jaar 'n vryehandelsooreenkoms met die EU, maar MacKay sê Europese ondernemings het harder gewerk om voordeel hieruit te trek as wat Suid-Afrikaanse ondernemings het.
Nota: Wanneer sentrale banke kwantitatiewe verruiming wil toepas, skep hulle volgens www.economist.com geld deur die koop van effekte, soos staatseffekte, van banke, met elektroniese kontant wat nie voorheen bestaan het nie. Die nuwe geld sorg vir groter bankreserwes in die ekonomie. Soos met die verlaging van rentekoerse is kwantitatiewe verruiming se doelwit die stimulering van die ekonomie.