
Vyfhonderd kommersiële swart boere, wat produkte van hoë gehalte lewer, sal oor drie jaar gevestig word. Dit is die mikpunt wat mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, in ’n kort tydperk wil sien realiseer.
Mlengana en sy span het die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye ingelig oor die departement se vordering met sy programme. “Mense sê altyd hulle wil van die boere koop, maar dan moet hulle hoë-gehalte produkte produseer.”
Hy het aangedui dat agt plase van kleinskaalse swart boere reeds volgens die land se standaarde vir goeie landboupraktyke gesertifiseer is om toegang tot markte te kry. Bande is reeds gesmee om ’n langtermynverhouding met die Midde-Ooste te bou as ’n uitvoermark vir Suid-Afrikaanse produkte. ’n Markprofiel oor landbouprodukte wat na Koeweit uitgevoer kan word, is reeds in die tweede kwartaal saamgestel.
Dié land, wat 10% van die wêreld se oliereserwes het, se landbou is baie beperk wees ’n tekort aan water en bewerkbare grond, wat hom afhanklik van die invoer van kosprodukte maak.
Mlengana sê hy laat dit gereeld by sy kollegas insink dat as die plaaslike landbousektor ’n afname in groei ervaar, daar na ander Afrika-lande uitgevoer moet word. Hy voel ook dit maak sin vir die land om in die winter produkte vir die Suid-Afrikaanse mark te produseer in Afrika-lande wat op die ewenaar geleë is.
Pluimveeskema
Altesaam 109 boere regoor die land is geïdentifiseer om deel te neem aan die pluimveeskema van die departement om hul produktiwiteit te verbeter. Mlengana glo met hierdie skema kan kleinskaalse boere gebrei word om op kommersiële vlak te produseer.
Markte soos byvoorbeeld hotelle, waar eiers elke oggend vir ontbyt voorgesit word, kan volhoubare groei vir die bedryf verseker, sê hy.