
Vergeet van die Regering en sy beloftes; sluit eerder vennootskappe met kommersiële boere.
Dít is die boodskap van mnr. Nick Serfontein van die Sernick-landbougroep aan voornemende swart boere.
Hy was op die Nampo-Oesdag lid van ’n paneel wat die Land Bank se nuwe finansieringsmodel vir versnelde boer-ontwikkeling bespreek het.
Dit kom daarop neer dat die Land Bank met groot kommersiële boerderye hande vat om meer hefboom-finansiering te bewerkstellig vir vennootskapsooreenkomste met swart boere wat toegang tot grond het, maar nie noodwendig tot die nodige finansiering vir produksie nie.
Sernick bedryf so ’n projek, en het die afgelope tyd veral in opleiding vir voornemende swart boere belê. Die groep het onder meer ’n opleidingsentrum opgerig. Sy swart boerevennote het deur Sernick tot die totale res van die waardeketting toegang, soos die groep se voerkraal waar hy kontrakvoeding bedryf.
200 boere staan reg
Serfontein het in die paneelbespreking gesê hy sal oombliklik tot 200 wit kommersiële boere kan mobiliseer om soortgelyke projekte te begin as die finansiering beskikbaar gestel word.
“Daar is soveel gewilligheid. Een Oos-Kaapse boer het my nou die dag vertel hy het 20 000 ha grond vir so ’n vennootskapsprojek beskikbaar as hy finansiering vir die oprig van infrastruktuur kan kry, en ’n lening van die Land Bank sodat hulle op die grond kan begin produseer.”
Mnr. Patrick Sekwatlakwatla, Sernick se hoof van korporatiewe sosiale belegging, het mnr. TP Nchocho, die Land Bank se uitvoerende hoof en sy bestuur, geprys vir hul nuwe finansieringmodel en Nchocho se grondvlak-betrokkenheid by hul projek. In sy 16 jaar by verskillende maatskappye in dié beroep hy dít nog nooit gesien nie, het hy gesê.
“Suid-Afrika het méér sulke prakties-gerigte uitvoerende hoofde nodig.”
Sukses
Sekwatlakwatla het gesê die meeste van die voornemende swart boere wat hul oplei, jong vroue tussen 18 en 20 jaar oud is. Hulle word nie net die teorie van boerdery geleer nie, maar ook die praktyk.
Nchocho het gesê daar is geen rede hoekom die Land Bank nie projekte op kommunale grond kan finansier nie. Gemeenskapslede moet net tot langtermyn-huurkontrakte instem. Daar is byvoorbeeld reeds so ’n makadamia-projek op kommunale grond in die Oos-Kaap.
Die primêre beginsel is dat die bank, as uitlener, die versekering wil hê dat die projek só gestruktureer is dat dit heel waarskynlik suksesvol gaan wees, en die bank sy geld gaan terugkry.
Die Land Bank se mandaat is nie om toelaes uit te deel nie, maar om eerder die fasiliteerder van hierdie soort vennootskapsooreenkomste te wees, het Nchocho gesê.