Swart boere in die rooivleisbedryf is keelvol dat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye nie sy uitvoerstatus kan behou en voldoende siektebeheer toepas nie.
Die nasionale organisasie vir opkomende rooivleisprodusente (Nerpo) en die organisasie vir swart boere (African Farmers’ Association of South Africa) steun die Rooivleisbedryfsforum se klagtes dat me.Tina Joemat- Pettersson en haar departement nie na die belange van die rooivleisbedryf in die land omsien nie.
Onvoldoende siektebestryding
Mnr. Aggrey Mahanjana, uitvoerende direkteur van Nerpo, het aan die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye gesê dat dit “volksmoord” vir kleinboere in die land is dat die departement nie sy funksie kan vervul om siektebestryding toe te pas nie.
“Ander lande doen hul bes om hul uitvoerstatus te behou en dieresiektes te bestry.” Hy sê dit is nie wit boere wat erg geraak is deur die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer in die noorde van KwaZulu-Natal nie, maar swart beginnerboere.
Gebrek aan kommunikasie
Die organisasie sukkel glo om vergaderings met die departement en die minister te belê. Dit het tyd geword dat die waarheid gepraat word en dat geen politieke belang ’n rol daarin speel nie, het Mahanjana gesê.
Mnr. Mike Mlengana, leier van Afasa, het die departement se planne bevraagteken om 50 000 nuwe boere teen 2014 te vestig. ’n Duidelik gefrustreerde Mlengana het aan die komitee gesê hy glo nie dat die duisende boere gevestig sal word nie.
17 September 2011