
'n Bykomende model ter aanvulling van die Regering se strategie vir die verkryging van grond (PLAS) is deur swart boere voorgestel.
Die voorstel by Afasa en Nerpo se gesamentlike streekkongres by Frankfort is daarop gemik om grondherverdeling te bespoedig omdat PLAS, volgens mnr. Shadrack Mbhele, Afasa se voorsitter in die provinsie, aan bande gelê word deur ’n gebrek aan geld en rompslomp.
Dit behels dat swart boere self plase wat in die mark beskikbaar is identifiseer en met die verkoper oor ’n prys onderhandel. Sodra oor ’n prys ooreen gekom is, bepaal die waardeerder-generaal of dit markverwant is. Dan nader die koper die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming vir ’n 50%-subsidie.
“As dit goedgekeur is, kry die koper ’n lening (verkieslik by die Land Bank) met die goedkeuring van die departement, wat as deposito of kollateraal kan dien,” sê mnr. Maseli Letuka, Nerpo se provinsiale voorsitter. “Die lening moet nie oor ’n korter tydperk as 30 jaar wees nie en teen ’n vaste koers van nie meer as 5% nie, sodat die terugbetaling bekostigbaar vir die boer kan wees.”
Mnr. Aggrey Mahanjana, sekretaris-generaal van Afasa, sê die model verseker ook dat die boer ’n plaas kry wat by sy tipe bedryf inpas, wat sy kanse op sukses verbeter. Hy beklemtoon dat dit net aanvullend tot PLAS moet wees en dat steun na vestiging van die boer steeds moet voortduur.
Lees ook: Afasa soek antwoorde by Nkwinti