
Terwyl die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa) meen die voorstel dat boere 50% van hulle plase aan hulle werkers moet gee onprakties is, sien die National African Farmers’ Union (Nafu) die oopgooi van die debat oor die herverdeling van grond as 'n positiewe verwikkeling.
Die dokument wat vóór die algemene verkiesing sy opwagting gemaak het, word veral gekritiseer omdat dit plaaswerkers weerloos laat.
Mnr. Aggrey Mahanjana, sekretaris-generaal van Afasa, sê hulle stem saam met Nkwinti dat grondhervorming versnel moet word, maar stem nie saam met hoé hy dit wil doen nie. Dié voorstel is onprakties, dit nie volhoubaar nie en dra nie by tot voedselsekuriteit nie, meen hy. "Die Regering bly spring van die een beleid na die ander sonder om enigeen af te handel.
"Ons stem saam met die Regering om nie die pad van onteiening sonder vergoeding te neem soos wat die EFF voorstel nie, en het begrip dat die beginsel van gewillige koper-/verkoper hom frustreer. ’n Middeweg sal gevind moet word, want ons kan nie toelaat dat voedselproduksie in gedrang kom nie."
Afasa se raad aan Nkwinti is dat hy eerder moet fokus om 90% van die plase wat oorgedra is, produktief te kry. Die staat moet ook die eerste opsie van weiering kan uitoefen wanneer landbougrond in die mark kom. "Ons deel nie die siening met die Regering dat wit boere grond terughou nie. Elke jaar kom sowat 5% plase van wit boere in die mark. Die Regering, met sy burokratiese prosesse, neem te lank om 'n aanbod te maak. Hy kon in ses jaar sy teiken van 30% teiken bereik het as hy dié pad gevolg het."
Mnr. Motsepe Matlala, voorsitter van Nafu, sê die voorgestelde beleid is slegs een wat die gronddebat moet aanwakker en belanghebbendes in die landbou die geleentheid gee om met oplossings voorendag te kom. "Die Regering plaas vir die eerste keer voorstelle op die tafel wat landsburgers die geleentheid gee om met beter oplossings vorendag te kom."
"Ons het in 1994 die besluit geneem om oplossings deur samesprekings en dialoog te vind. Nafu sal nie van hierdie Suid-Afrikaanse kultuur van onderhandeling afwyk nie."
Matlala het bygevoeg dat dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, in 2012 die weg vir werklike debat oor die grondkwessie gebaan het toe hy in die Parlement pogings aangewend het om 'n “nasionale gesprek met feite” oor die grondkwessie aan te wakker.
"Die regering het nou 'n les uit Mulder se oproep geneem dat die land met oplossings vorendag moet kom wat voordelig vir beide plaaseienaar en - werker sal wees."