
’n Omvattende ontleding van grondverkope in Suid-Afrika wys dat 16,8% van die aantal transaksies van grondverkope sedert 2010 deur swart kopers opgeneem is. Dié kopers het 17,1% van die grond gekoop.
Landbou.com en Agri Development Solutions (ADS) doen die afgelope jaar ’n omvattende studie om die omvang van grondeienaarskap in Suid-Afrika vas te stel. Dié projek is aangepak omdat geen nasionale oudit van landbougrond tot dusver in Suid-Afrika beskikbaar is nie. Tweedens is die projek gedoen om die talle ongegronde en soms opruiende aansprake oor grondbesit te kan besweer.
Die data vir die ontledings is bekom van aktekantore en Windeed, wat maandelikse aktekantoor-inligting oor onder meer plaasverkope bevat.
Eertse fase van projek
In die eerste fase van die projek is data van 2010 tot 2016 ontleed.
* Altesaam 34 994 transaksies van groter as 10 ha is verwerk. Dié transaksies beslaan 17 699 994 hektaar, wat teen R206,8 miljard verhandel is.
* Daarvan was 16,8% (5 886 transaksies) transaksies van kleur (kopers wat nie wit is nie). Die oppervlakte ter sprake is 3 034 428 hektaar (17,1% van die totale aantal hektaar) wat teen R44,9 miljard van eienaar verwissel het. Die Regering het 7,6% van dié grond gekoop. Dit beloop 1 353 647 ha.
Mnr. Johann Bornman, voorsitter van ADS, het dié reusetaak aangepak om elke transaksie afsonderlik te kategoriseer en in ’n databank op te neem. Hy het daarmee transaksie-profiele per distrik, per provinsie, die aanwending van die grond en per kleurgroep saamgestel. Dit sluit ook die grondoppervlaktes en waardes in.
Maatskappye se grond
In die ontledings is aandeelhouding van mense van kleur in maatskappye, vennootskappe, BK’s en SEB-projekte nie in berekening gebring nie. Grondtransaksies vir moontlike dorpsontwikkeling deur munisipaliteite is wél in berekening gebring.
Bornman sê ’n konsentrasie van aankope deur mense van kleur kom in sekere provinsies voor, soos die volgende:
Noordwes: Rustenburg/Marikana en Lichtenburg/Coligney, Zeerust.
Limpopo: Burgersfort, Soekmekaar, Potgietersrus/Nylstroom, Louis Trichardt/Dendron en Bela-Bela.
Mpumalanga: Middelburg/Groblersdal, Nelspruit.
KwaZulu-Natal: Pietermaritzburg, Pongola/Louwsburg, Vryheid/Utrecht.
Oos-Kaap: Maclear, King William’s Town, Oos-Londen, Kokstad.
Vrystaat: Bethlehem, Ladybrand.
Fase twee is data van 1994 tot 2009
Bornman sê die doel van die projek is ook om die data van grondverkope van 1994 tot 2009 te bekom om sodoende ’n volledige oudit te kan aanbied oor grondbesit in die nuwe Suid-Afrika. Dié gedeelte van die projek staan egter stil. Die koste van die projek is tot dusver deur ADS en Landbouweekblad gedra.
Bornman het ook deeglike navorsing gedoen oor die okkupasie en besit van grond in die vroeë geskiedenis van Suid-Afrika.
Hy sê die gebruik en aanwending van grond is divers en by verre nie beperk tot die kommersiële landbou nie. Om die beredenering van grondhervorming te beperk tot kommersiële landbou, is 'n oorvereenvoudiging en misvatting van die kwessie.
* Kontak Johann Bornman by jchb@mweb.co.za