“Ons eie swartgalligheid oor ons land laat ons geleenthede miskyk,” het mnr. Francois Strydom, besturende direkteur van Senwes, tydens Agri Noordwes se kongres-dinee gesê.
Wanneer ‘n mens na die verskeie lande se posisies kyk, is Afrika dié vasteland waar dinge in die toekoms gaan gebeur, sê Strydom. “Jy hoef net te reis om te sien dat ons in die beste land bly. Ons praat van Afrika asof dit ‘n ander kontinent is en laat ander moondhede toe om dit oor te neem.”
Strydom meen veral die landbou het baie om te bied in dié verband. Hy het egter benadruk dat daar geen plaasvervanger vir navorsing en keurige beplanning is nie.
Die sektor het ook baie te bied wat waardes aanbetref, sê Strydom. “Wanneer jy aangeplakte pretensies het, sal dit vinnig raakgesien word.”
Landbounavorsing by NWU
Die Noordwes Universiteit (NWU) wil sy landbouverwante navorsing verskerp, het prof. Herman van Schalkwyk, rektor van die NWU se Potchefstroom-kampus, op die kongres gesê.
Toe Van Schalkwyk die Universiteit van die Vrystaat verlaat het om by die NWU aan te sluit, het hy om dié rede ‘n navorsingspan saamgebring. Van Schalkwyk was voorheen die dekaan van die UV se fakulteit van natuur- en landbouwetenskappe.
“Ons is nie van plan om ‘n tradisionele landboudepartement op die rig nie, maar bekyk eerder die problematiek rondom die landbou.”
Water en agronomiese kwessies is as voorbeelde gebruik. “Die probleme rondom water word nou só akuut dat ‘n sentrum van uitnemendheid eintlik al lankal opgerig moes gewees het.” Die universiteit is reeds in gesprek met die georganiseerde landbou en landboubesighede in dié verband.
Van Schalkwyk het bygevoeg dat die ondersoeke tot nuwe studierigtings mag lei.
9 September 2010