
Wynboere maak hulle reg om ’n paar duisend ton druiwe minder te pars ná verwoestende swartryp – ’n uiters seldsame verskynsel in die wynproduksiestreke – in Oktober toegeslaan het en gevoelige, jong trossies vernietig het.
Mnr. Francois Viljoen, bestuurder van wingerdboukundige dienste by VinPro, sê die swartryp op die oggend van 12 Oktober was “wydverspreid en omvangryk”. Benewens die Breedekloof is Aan de Doorns, Brandvlei, Nuy, De Wet en die Witzenbergvallei ook geraak.
Volgens mnr. Hendrik Myburgh, wingerboukundige van Goudini-wynkelder, lyk dit of ’n veldbrand deur die Breedekloof getrek het. “Dis swárt gebrand. Dis asof daar nie lewe in die wingerde is nie. Op sekere plase is 30% tot 40% van die wingerde daarmee heen, in ander gevalle is daar net 2% tot 5% skade.”
Mnr. Willie Burger, bestuurder van Badsberg-kelder, sê die invloed gaan aansienlik groter wees as die droogte van verlede jaar. “Ons praat van ’n paar duisend ton druiwe wat vernietig is. Ek gaan verseker oop plek in die kelder hê. Ons was gerat vir ’n rekordoes en het nogal die mark ook gehad daarvoor. Nou sal ons nie al die nuwe markte wat ons gevestig het, kan diens nie.
Myburgh sê hoewel die omgewing elke jaar ’n bietjie ryp kry, kom swartryp net elke 10 tot 15 jaar voor. “Hierdie is beslis die ergste wat die vallei nog ooit gesien het. Ons het nog nie ’n werklike idee van die skade nie, maar dit lyk erger as wat ons aanvanklik verwag het.”
Die koel lenteweer het tot die swartryp gelei. Swartryp gebeur wanneer die lug baie droog is en die omgewingstemperature tot onder vriespunt daal. “Dis gewoonlik op ’n windstil nag,” sê Viljoen.
Die koue, droë lug vorm ’n “vrieslaag” op ’n sekere hoogte bo die grond, maar dit kan nie kondenseer en wit yskristalle vorm nie. Die sappe vries binne die plantselle, wat uitsit en bars. Dit laat plantweefsel vrek en gee dit ’n swart voorkoms. Burger sê die trossies was in ’n baie gevoelige stadium so voor blomtyd.
“Skelm ryp”
Viljoen sê die invloed van die ryp sal oor tyd waargeneem word. “Ons praat van skelm ryp; dis daardie deel wat jy nie sien nie, soos die skade op korrels of die korrelsteeltjies wat jy eers teen parstyd agterkom. Dit kan ook jou volgende oes beïnvloed. So ’n ryp kan jou dus twee, drie keer kom slaan.”
Hy sê heelwat trossies, wat verlede week nog gelyk het of dit die paal gaan haal, het intussen ook uitgedroog. “Ons eerste oesskatting is vroeg in Desember en ons sal die invloed van die ryp daarin aanraak.”
Volgens Burger sal die beskadigde wingerde ekstra werk vereis om seker te maak 2018 se oes word nie ook geraak nie. “Die ryp gaan ook ’n invloed hê op volgende jaar se aanplantings, want boere se inkomste gaan afneem, daarom gaan hulle nie die kapitaal hê om te plant nie.”
Volgens Viljoen kan swartryp voorkom word deur die lugvog (humiditeit) te verhoog met oorhoofse besproeiing of deur lugbeweging met groot waaiers (soos spuitpompe) te bewerkstellig.