
Met die val van die laaste hamer op ’n veiling vir sybokaar vanjaar, berig Cape Mohair & Wool (CMW) dat die 2014-somerseisoen 45,8% beter afgesluit is as verlede jaar se pryse. Dit is boonop 88,6% beter as die somerseisoen van 2012.
Volgens mnr. Pierre van der Vyver, hoofbestuurder: Sybokhaar by CMW, was die vraag na alle tipes sybokhaar die afgelope seisoen goed.
Mnre. Billy en Fred Colborne van Willowmore het onder meer die hoogste individuele prys nóg van R850,50/kg vir hul baal kleinbokkiehaar ingepalm, asook ook die wêreldrekordprys vir jong en groot bokke herskryf. Hulle het ook die rekord verbeter vir ’n volle skeerselgemiddeld toe hulle EGT- getoetste skeersel teen R338,59/kg verhandel is. Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat ‘n skeerselgemiddeld deur die magiese vlak van 300/kg breek.
Die hoogste prys is betaal deur die kopershuis MWT, wat dit vir sy Italiaanse kliënt, SAFIL gekoop het.
Mnr. Piet Viljoen van Kleinpoort het R850/kg vir sy Ermenegildo Zegna-kwalifiserende baal kleinbokkiehaar behaal. Stucken was die koper.
CMW, wat deel uitmaak van die groter OVK-groep, is die grootste makelaar van sybokhaar ter wêreld en bemark saam met sy filliale meer as 73% van die totale plaaslike produksie.
Byskrif: Van links is mnre. Pierre van der Vyver (CMW); Gerrit Fourie (Stucken); Piet Viljoen (verkoper); Billy Colborne (verkoper); Ivan Smith (WMT) en Matthew Fox (CMW-afslaer). Foto verskaf. (Klik op die foto om dit vergroot.)