Onsekerheid oor die wêreldekonomie het na die sybokhaarmark oorgespoel en die prys van alle tipes haar het op verlede week se veiling gedaal.
Winter-jongbokhaar is die ergste geraak. Volgens Sybokhaar Suid-Afrika het die prys van kleinbokkiehaar met 4,2% teruggesak. Winter-jongbokhaar was 10,7% goedkoper, terwyl fyn en sterk groothaar onderskeidelik met 5%en 1,9% gedaal het.
Die gemiddelde prys vir alle tipes haar was 2,8% swakker. Net 88% van die betreklik groot aanbod van 196 000 kg is van die hand gesit.
Ekonomiese druk
Van die redes vir die swakker vertoning van die mark is die ekonomieë van groot koperslande, soosItalië en Japan,wat onder groot druk verkeer, asook die groot aanbod van sybokhaar uit Lesotho.
Die enigste ligpunt is dat die gemiddelde prys van R87,46 per kilogram steeds 12% hoër is as op die ooreenstemmende veiling ’n jaar gelede. Die hoogste prys van R239 per kilogram is betaal vir twee bale kleinbokkiehaar van mnre. Martin en Hein Truter van Oudtshoorn.
Waarnemers meen pryse behoort op die volgende veiling op 11 Oktober te stabiliseer. Die aanbod sal kleiner wees, maar van ’n beter gehalte.
5 Oktober 2011