
Die droogte in Piketberg is tans so erg dat 'n mens skaars kan glo dat dié distrik in 2016 sowat 767mm reën gekry het. In skrille kontras met verlede jaar, het Piketberg tot einde Mei vanjaar slegs sowat 51mm gekry, sê me. Elsa de Jager, bestuurder van klimaatinligting by die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD).
Mnr. Abri Richter van Piketberg sê hy het die afgelope naweek 10mm op sy plaas Panorama gemeet. “Ons het nog geen ondergrondse vog nie, so daar is nie reserwes nie,” sê hy. Richter sê danksy die naweek se reën kan die grane vir ten minste 'n week aangaan.
Mnr. David Burger, wat met skape en rooibos naby die Nardouwsberg-gebied by Clanwilliam boer, sê vanjaar se reënval was, vergelyke met die vorige jaar, baie swakker. Volgens die SAWD het die streek tot einde Junie slegs 49mm gekry teenoor 120mm in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
Burger egter hy het op sy plaas sowat 60mm gemeet. “Die meeste reën wat ek op een slag gemeet het, is sowat 30mm,” sê hy.
Elke bietjie help
Volgens die SAWD is die Wes-Kaapse se gemiddelde reënval (2010 tot 2017) vir die eerste ses maande van die jaar 242mm. Vanjaar het die Wes-Kaap in dieselfde periode slegs 'n gemiddeld van 154mm reën gekry.
Me. Jeanne Boshoff, woordvoerder van Agri Wes-Kaap, sê hoewel hulle dankbaar is vir die afgelope naweek se reën en sneeu, maak dit nie 'n wesenlike verskil aan landboutoestande nie. Volgens Boshoff het graanboere nog baie reën, met gereelde intervalle, nodig.
“Ons gaan ook baie reën nodig hê vir weiding om te herstel. Plaasdamme is steeds baie leeg en kort nog baie reën,” sê sy. Luidens 'n verklaring van die Departement van Waterwese en Sanitasie is die gemiddelde damvlakke in die provinsie sowat 25,1%. Die stelsels sluit die Wemmershoek-, Voëlvlei-, Benede- en Bo-Steenbras-, Theewaterskloof- en Bergrivierdam, in.
Mr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, eggo Boshoff se sentimente oor nóg reën wat nodig is. “Die onlangse reën, gekoppel met goeie sneeuval, sal 'n impak op damvlakke hê, maar ons is nog ver van waar ons moet wees.”
Kanse op reën lyk skaars
Mnr. Giel Hugo, weervoorspeller van Bredasdorp, sê daar is geen tekens dat noemenswaardig reën op pad is nie.
'n Paar fronte sal wel deurkom vir die res van Julie, maar meer reën word vir die Kaap teenoor die hele Wes-Kaap voorspel. Die huidige winter se tendense tot dusver sal in ook Augustus voortgaan.
Volgens Hugo sal die sneeu wat geval het en geleidelik in die grond gesuig is, help om ondergrondse water aan te vul, maar dit maak ongelukkig nie damme vol nie. “Ons wil sneeu hê, maar ander goeie reën, dan is almal gelukkig,” sê hy.