
Die regering werk aan die wysigingswetsontwerp op tabakprodukte en elektronieseleweringsbeheer. Dit sal die minister van gesondheid groter mag gee om regulasies in verband met dié produkte uit te vaardig.
Die wetsontwerp stel strenger regulasies voor oor waar gerook mag word, asook die verpakking, bemarking en vertoning van tabakprodukte en e-sigarette.
Mnr. François van der Merwe, lid van LTP se direksie, sê dat dié wetsontwerp in sy huidige vorm die potensiaal het om een van die strengste stukke anti-rookwetgewing ter wêreld te word, tog het die regering nie verbruikers in kennis gestel van die implikasies daarvan nie.
“Daar is ’n dringende behoefte om verbruikers bewus te maak van hoe die nuwe wetgewing hul daaglikse lewe sal raak. Byvoorbeeld, hulle kan tot vyf jaar tronkstraf opgelê word as hulle in hul eie huise rook, terwyl ander mense daar werk.
“Ons steun die regulering van die bedryf, maar die regulering moet konsentreer op die oplos van werklike kwessies en die toepassing van doeltreffende maatreëls om openbare gesondheid te steun. Die voorgestelde wetsontwerp doen nie een van die twee nie en so ’n oordrewe benadering is eenvoudig onnodig, veral omdat daar reeds ’n massiewe onwettige mark is.”
Volgens hom sal die nuwe wetsontwerp die doodskoot vir die wettige mark en tabakwaardeketting wees. Dit gaan rokers en kleinhandelaars ondergronds dwing en duisende mense in die tabakbedryf hul werk kos.
“Navorsing het reeds aangedui dat sowat 90% van rokers tydens die verbod op die verkoop van tabakprodukte steeds tabakprodukte gekoop het, wat bewys dat prohibisie mense nie ontmoedig om te rook nie.
“Wanneer die wettige mark oorreguleer word, neem die onwettige mark oor. Mense hou nie op rook nie. Die enigste mense wat sal baat vind by die nuwe wetgewing is die misdaadnetwerke wat onwettige produkte verkoop. Die onwettige mark behoort in die regering se visier te wees, nie verbruikers en kafee-eienaars nie.
“Dit is een ding om mense te verbied om op sekere plekke te rook, soos ons tans doen, maar om rokers in misdadigers te omskep voer dit te ver.”
Verder meen Van der Merwe dat die regulasies nie afdwingbaar is nie weens die aard van die bedryf. Meer as 80% van alle sigarette word by informele verkooppunte verkoop en as daar nie aan die regulasies voldoen word nie, kan handelaars 10 jaar tronkstraf opgelê word.
“Dit is uiters onregverdig en kan duisende arm mense misdadigers maak wat eenvoudig besigheid probeer doen.
“Die druk wat die wetsontswerp op wetstoepassers sal plaas, is ook totaal onprakties. In ’n samelewing met buitensporige gewelddadige misdaad en verlies van lewe en eiendom, sal die polisie se hulpbronne herlei moet word om mense te vang wat ’n sigaret rook of sigarette verkoop om ’n inkomste te verdien.”
Van der Merwe sê rokers moet weet wat die wetsontwerp bevat en dit teenstaan. “Hoe meer mense bewus is van wat kom, hoe meer kan hulle deelneem om ’n ordentlike, rasionele en realistiese wet te verseker.”
Besoek www.stopthebill.co.za vir nog inligting.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.