
In dieselfde week as wat ons plaaslike mielie-oes die 14 miljoen ton-mylpaal verbygesteek het, het Taiwan as 'n geesdriftige koper ontpop wat kan help om van ons groot plaaslike oorskot vanweë die rekord-oes ontslae te raak.
Dit is 'n hoopvolle flikker in die tonnel vir ons plaaslike mieliemark, wat nou al maande swaar onder die druk van die groot voorraad en tot dusver trae uitvoertempo gebuk gaan.
Taiwan se aankoper-groep Members Feed Industry Group (MFIG) het aangekondig dat hy 'n Suid-Afrikaanse aanbod van 50 000 ton geel mielies bó 'n onder meer Amerikaanse bod gekies het in 'n internasionale tender wat verlede Dinsdag (22 Julie) gesluit het. Dis 'n teken dat ons mielies nou uiteindelik mededingend in die uitvoermark raak en 'n versnelling van ons uitvoertempo hopelik verwag kan word.
Die Taiwan-transaksie is aan Suid-Afrika toegeken omdat Amerikaanse mieliepryse volgens sekere Amerikaanse handelaars nou te hoog is, en nie meer met ons Suid-Afrikaanse mielies op die Taiwan-mark kan meeding nie, bevestig Wessel Lemmer, ekonoom van Graan SA.
Ons totale geelmielie-uitvoer sedert die begin van die bemarkingsjaar op 1 Mei vanjaar staan nou op 586 324 ton, waarvan die meeste (amper 400 000 ton) na Taiwan gaan. Ons witmielie-uitvoer vir die eerste dertien weke van die bemarkingsjaar was 135 515 ton.
Taiwan het verlede jaar as ernstige koper tot ons mielie-uitvoermark toegetree, toe altesaam 166 360 ton van ons geel mielies oor die diepsee daarheen is. Amptenare van dié ambassade het Graan SA in Oktober vir 'n amptelike ete genooi om aan te kondig dat hulle in die toekoms al hoe meer van ons mielies wil invoer.
Die Nasionale Oesskattingkomitee het die verwagte nasionale mielie-oes verlede week in sy sewende raming verder tot 14,02 miljoen ton verhoog. Dit is ons tweede grootste oes ooit, naas 1981 se 14,4 miljoen ton.
Die witmielie-skatting is onveranderd op 7,7 miljoen ton gelaat, maar die geelmielie-skatting is met 2% tot 6,31 miljoen ton gelig. Die nasionale gemiddelde opbrengs vir geel mielies staan nou op 5,56 ton per ha, vir wit mielies op 4,96 miljoen ton. Dit beteken 'n gemiddelde nasionele mielie-opbrengs van 5,21 ton per ha, die heel hoogste ooit.
Die komitee het sy sonneblom- en sojaboon-oesskattings onveranderd op onderskeidelik 853 325 en 944 340 ton gelaat, maar die grondbone-skatting met amper 8% tot 82 690 ton verlaag. Die sorghum-skatting is weer met amper 10% tot 255 700 ton verhoog.