Die oordrag van waterregte moet bespoedig word na aanleiding van die jongste hofbevinding oor watergebruiksregte, sê die Demokratiese Alliansie (DA).
Luidens ’n verklaring verwelkom die party die hofbevinding waarvolgens boere toegelaat moet word om waterregte van een besproeiingsaanleg na ’n ander oor te dra.
“Ek sal vandag (Dinsdag, 23 Augustus) aan die Minister van Waterwese en Omgewingsake, me. Edna Molewa, skryf om aan te beveel dat sy alle oordragte van waterregte ingevolge dié bevinding bespoedig,” aldus mnr. Lourie Bosman, die DA se verteenwoordiger vir landbou.
Agterstand
Bosman sê die hofbevinding stel die minister nou in staat om die “aansienlike” agterstand wat die afgelope jare met die oordrag van waterregte ontstaan het, vinnig uit te wis en die proses te bespoedig.
“Meer buigbare waterregoordragte sal boere in staat stel om produksie te verhoog en om nuwe werksgeleenthede in die land te skep en groei in die landelike ekonomie te stimuleer,” aldus Bosman.
Belegging
Volgens Bosman het die haakplekke ten opsigte van waterregte boere vir baie jare huiwerig gemaak om in grond te belê omdat dit nie deur waterregte gedek is nie. Hy sê dié bevinding sal boere nou in staat stel om waterregte aan te pas of oor te dra, wat beteken dat grond wat tans onproduktief lê, produktief benut kan word.
“Dit sal ook opkomende boere in staat stel om vinniger toegang tot waterregte te kry, wat weer die grondhervormingsproses kan versnel,” sê Bosman.
23 Augustus 2011