
Boere kan die koste van toerusting vir veiligheid om hul ondernemings teen misdaad te beskerm, teen belasting afskryf.
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het dit aan Agri SA bevestig. Dit geld egter nie toerusting in private wonings nie, sê mnr. Johan Pienaar, adjunk-uitvoerende direkteur van Agri SA.
Volgens Pienaar het Agri SA die SAID op versoek van sy lede genader omdat onsekerheid bestaan het of boere, soos ander sake-ondernemings, veiligheidstoerusting kan afskryf.
Agri SA se landelike beveiligingskomitee het die moontlikheid bespreek en die beginsel van aftrekbaarheid toe met die SAID opgeneem, wat bevestig het sulke toerusting kán kragtens Artikel 11(e) van die Inkomstebelastingwet oor vyf jaar afgeskryf kan word.
“Misdaad in die vorm van veediefstal, die diefstal van toebehore, produksiemiddele en plaasprodukte veroorsaak groot geldelike verliese vir boere. Dit noodsaak dus die installering van veiligheidstoerusting om boere teen sodanige verliese te beskerm,” skryf Pienaar in 'n Agri SA-nuusbrief.
Hy het by navraag gesê die bevestiging deur SAID beteken nié daar is 'n blanko tjek nie en dat boere kan verwag dat enige koste wat in hierdie verband opgegee is, deeglik bekyk sal word om seker te maak dit is vir die boerdery-onderneming. Dit kan byvoorbeeld wees om buitegeboue of 'n produksie-eenheid te beskerm.
Mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee, sê dit kan ook wees vir iets soos alarms op diere.
Boere bestee volgens hom astronomiese bedrae aan die wye spektrum van toerusting wat beskikbaar is, insluitend kameras, veiligheidsensors en moniteringstoerusting, wat duur is omdat dit elektronika behels.
Agri SA moedig sy boerelede aan om hul ouditeure en/of boekhouers te kontak oor hoe hulle dié belastingvoordeel kan benut.