
’n Plaas wat aan ’n trust verkoop is deur middel van ’n lening van die boedeleienaar, kan probleme bring met die voorgestelde wysigings op belastingwette. Dié wysigings wil verandering aan die belasting van rentevrye lenings aan trusts sien.
Dié soort probleme kan vir die belastingjare wat op 1 Maart 2017 volg, ’n werklikheid word met die Nasionale Tesourie wat wil toesien dat die staatskoffers met die miljarde gevul word wat jaarliks verlore gaan weens trusts wat gebruik word om welvaart teen boedelbelasting te beskerm.
Adv. Ronald King, hoof van strategiese navorsing by PSG, verduidelik dat probleme kan opduik by plase wat onder die 8%-markkoers aan die trust deur middel van ’n lening van die boedeleienaar verkoop is. As die trust egter die lening aan die bank skuld, dan is daar nie ’n probleem nie.
“As jy die plaas aan die trust verkoop het teen ’n rentevrye lening, gaan die geagte rente nou vereis dat die plaas se waarde in die trust met meer as 16.4% per jaar moet toeneem sodat die boedelbelastingvoordele die inkomstebelasting nadele kan ewenaar. Trusts in boerdery het egter ’n verskriklik belangrike beskermingswaarde, veral wanneer ons na die droogte kyk. Dit behou dus steeds sy hoofdoel.”
King sê dit is egter uiters belangrik dat die trust nie borg staan vir skulde nie, anders verloor dit hierdie voordeel. Dis ook belangrik om te onthou dat trusts dit makliker maak om plase byvoorbeeld van geslag tot geslag oor te dra sonder dat dit in die boedel gevries of oordragkoste betrokke is. Hierdie voordeel is nie verloor nie.
Met die Parlement se staande komitee vir finansies, wat nog oor die wysigings moet beraadslag en ook kommentare oor die wysigings moet deurwerk, kan die situasie egter verander indien verdere wysigings aan die belasting rondom trusts gemaak word.
Wysigings
Die wysigingswet bevat ’n nuwe artikel wat grootliks rentevrye lenings aan trusts sal neutraliseer. Artikel 7C wat by die Inkomstebelastingwet ingesluit word, het betrekking op alle lenings wat gemaak word tussen ’n trust en die verbonde persone en maatskappye.
King verduidelik dat indien die rentekoers wat op die lening gehef word, laer is as die Reserwebank se repokoers plus 1%, tans 8% in totaal, sal die verskil in rente ’n geagte inkomste in die hande van die uitlener wees.
Hierdie geagte inkomste is nie rente nie en kwalifiseer derhalwe nie vir die jaarlikse rentevrystelling nie. Die resultaat is dat dit ten volle teen die uitlener se grenskoers belasbaar sal wees. Om sake verder te versuur sê hy, vereis artikel 7C dat die bykomende belasting gehef binne drie jaar van die trust verhaal moet word.
Indien dit nie gedoen word nie sal hierdie bedrag as ’n skenking gesien word en teen 20% belas word. Die wetgewing wil ook sien dat enige skenking van ’n lening deur ’n verbonde persoon aan ’n trust, onderworpe aan skenkingsbelasting sal wees.