Skaars nadat die ANC-jeugleier, mnr. Julius Malema, verklaar het dat boere van 80% van hul grond moet afstand doen omdat hulle dan nie meer aangeval sal word nie, is die naweek verneem van die soveelste wrede moord op mnr. André van der Merwe (49), ’n boer by Ottosdal.
“Dit het by die punt gekom dat (die Staatspresident) mnr. (Jacob) Zuma nou sal moet besluit of hy gaan praat of stilbly,” sê mnr. Ben Marais, voorsitter van die TLU SA.
“Malema het hierdie aanvalle regstreeks daaraan verbind om grond te bekom. As ’n leiersfiguur binne dieANCkan dit nie anders beskou word as dat dit dus die ANC se beleid is nie. Indien dit nie die geval is nie, het mnr. Zuma geen ander keuse nie as om Malema op die sterkste moontlike wyse teen te staan. Mnr. Zuma moet weet dat sy stilswye die Malema-uitspraak goedkeur. Die hele wêreld sal dan besef dat dit die ANC se beleid is om boere te vermoor ten einde hul grond te bekom,” sê Marais.
Ontstoke boere en inwoners van Ottosdalsou vandag by die hof in dié dorp saamtrek wanneer die drie mans wat van die moord op Van der Merwe verdink word, hier verskyn, berig Carla van Niekerk van Beeld.
Mnr. Paul du Plessis, voorsitter van die plaaslike boere-unie, sê dit is ’n saamtrek om hul afkeer van plaasmoorde te toon.“Baie mense is ontstoke. Ons gaan vra dat hulle nie borg(tog) kry nie.” Du Plessis sê sowat 100 mense was by 'n vergadering, maar hulle verwag vandag baie meer mense.
Van der Merwe, wat ongetroud was, is sowat 1,2 km agter sy eie Toyota-bakkie aangesleep nadat hy in die agterkant van sy kop, sy bors en wang geskiet is, sê brig. Thulani Ngubane, kommunikasiehoof van die polisie in Noordwes.
Erg aangerand
Hy was glo erg aangerand en is oor los drade en deur die modder gesleep. Daar is na Van der Merwe, ook bekend as Brood, begin soek toe sy vriendin, me. Petra Pretorius, hom nie op sy selfoon in die hande kon kry nie.
Volgens Du Plessis het die polisie ook gekom, “maar hulle het gery toe hulle klaar rondgekyk het. Hulle het gesê dis nou ’n vermiste persoon-saak.” Een man het later ’n sleepspoor gevind, wat ’n ent verder in die natgedoude gras verdwyn het. “Ons het toe die spoor gevat en seker so agt keer bloed gekry.”
Sy liggaam is Saterdagaand gevind. Die drie verdagtes (onderskeidelik 25, 29 en 30) is kort ná die voorval in hegtenis geneem.
Mnr. Boeta du Toit, uitvoerende hoof van Agri NW, sê hulle is uiters begaan oor die ongunstige beeld wat onverantwoordelike slagspreuke en uitsprake van boere skep.
Ook die Vryheidsfront Plus het in ’n verklaring die aanval as “’niks anders as rassisme nie” beskryf. “Dis duidelik dat politieke motiewe en naakte rassisme al hoe meer na vore tree en kan in die wreedheid van plaasaanvalle gesien word. Die wreedheid van die plaasmoord is skokkend en behoort die Regering tot aksie te dwing om daadwerklik op te tree anders is dit duidelik dat die regering apaties teenoor rassisme en plaasmoorde staan,” aldus mnr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder vir die Vryheidsfront Plus en leier van die party in Noordwes.
Nog ’n lid van dié party, mnr. Werner Weber, hoofwoordvoerder vir grondsake en landelike ontwikkeling, sê “Malema het in sy eie woorde die mite dat plaasaanvalle gewone misdaad met roof as motief is, finaal die nek ingeslaan. Volgens mediaberigte (Beeld, 30 April 2011) het Malema gesê indien boere die grootste deel van hul grond met die armes deel, hulle geen rede het om misdadigers of plaasaanvalle te vrees nie. Hierdeur erken Malema dat plaasaanvalle en -moorde nie as blote misdaad beskou kan word nie.”
Die “Aksie Stop Plaasaanvalle”, waarvan Weber die voorsitter was, het reeds in 2002 bevind plaasaanvalle word gepleeg om boere te intimideer om hul plase aan swart mense af te staan, of hul plase met swart mense te deel.
3 Mei 2011