
Die verwagte gemiddelde mielie-opbrengs staan ná die jongste amptelike skatting op 5,17 ton per ha, die heel hoogste ooit, nadat die Nasionale Oesskattingkomitee dit pas vir die vyfde agtereenvolgende keer opwaarts aangepas het.
Die totale verwagte oes van 13,89 miljoen ton is nou al amper 1,5 miljoen ton hoër as met die eerste skatting in Februarie. Net 1981 se mielie-oes van 14,42 miljoen ton was groter. Daardie jaar se gemiddelde opbrengs was egter net 3,33 ton per ha.
Die vorige hoogste mielie-opbrengs was 4,96 ton per ha in 2009, toe die totale oes 'n aks groter as 12 miljoen ton was. Veral die witmielie-oesverwagting het vanjaar dramaties verbeter namate die produksie-seisoen gevorder het. Die jongste verwagte oes van amper 7,7 miljoen ton is 1,15 miljoen ton groter as met die eerste skatting in Februarie. Die gemiddelde verwagte witmielie-opbrengs staan nou al op 4,96 ton per ha, en die geelmielie-opbrengs op 5,45 ton per ha.
Die verwagte sojaboon-oes is ook 'n nasionale rekord. Dit is nou 944 340 ton, nadat die Oesskattingkomitee dit vir die soveelste keer opwaarts aangepas het. Die vorige grootste sojaboon-oes was verlede jaar se 784 500 ton.
Vanjaar se verwagte gemiddelde soja-opbrengs van 1,88 ton per ha is die naashoogste ooit. Net 2009 se opbrengs van 2,17 ton/ha was hoër, maar daardie jaar is minder as die helfte soveel sojaboon-hektare as vanjaar geplant.
Klik net op die aanhangsel hieronder om dit oop te maak.