
Die verwoestende tamatieblaarmyner-motspesie wat Nigeriese tamatieboere vroeër vanjaar op hul knieë gedwing het, is vir die eerste keer in Suid-Afrika – naby Komatipoort in Mpumalanga – waargeneem, het die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye bevestig.
Tuta absoluta, ook bekend as die tamatieblaarmyner, kom oorspronklik van Suid-Amerika af. Motte van die spesie is ook in die suide van die Krugerwildtuin en by die Lebombo-grenspos in lokvalle gevind.
Mnr. Jaco de Bruyn, hooflandboukundige vir tamatieproduksie by ZZ2, sê dié mot is nog nie ’n probleem in Suid-Afrika nie.
In Spanje in 2006
Tuta absoluta is vir die eerste keer in 2006 in Spanje waargeneem, vanwaar dit na Italië versprei het en toe na die Midde-Ooste. Die mot het sy weg na Afrika gebaan en intussen na 15 lande op die vasteland versprei, onder meer die Soedan, Ethiopië, Kenia, Mali, Niger en Senegal. Daar is onlangs berig dat ongeveer 15% van Zambië se 300 000 tamatiekwekers reeds deur die mot geraak word.
De Bruyn het onlangs aan die nuusdiens Moneyweb gesê Suid- Afrika se landbousektor is goed ontwikkel met professionele mense wat daarop klem lê om sulke probleme die hoof te bied.
Plaaslike tamatiebedryf
“Dié mot gaan nie die plaaslike tamatiebedryf op sy knieë dwing nie. Dit is ’n plaag, soos enige ander landbouplaag, en moet dienooreenkomstig behandel word,” sê hy.
Hy meen wel dit gaan noue samewerking tussen die land se landboustrukture en goeie landboubestuurspraktyke verg om die mot onder beheer te hou.
De Bruyn sê die insek kan deur geïntegreerde plaagbestuursbeginsels bekamp word. “Dit behels iets so eenvoudigs soos die bekamping van onkruid om lande. Nethuise kan gebruik word om motte uit hou, en dan is daar gedragsgebaseerde bekampingsmetodes, soos feromone en grootmaatlokvalle, om volwasse motte in toom te hou.”
Bestuursplan vir boere
Vir ’n chemiese bestuursplan kan boere Irac, die insekdoderweerstandskomitee se webwerf (http://www.irac-online.org/) besoek. Daar kan hulle ’n bespuitingsprogram kry wat weerstandigheid sal voorkom.
Die departement het aangekondig dat hy met tamatieboere en die Landbounavorsingsraad saamwerk om ’n aksieplan vir die bestryding van Tuta absoluta op te stel.