
Mededingende grondeise sal moontlik in die Grondeisehof uitbaklei moet word, terwyl ’n eis vir die herstel van grondregte reeds grond troef wat vir hervedeling toegestaan is.
Die Grondeisehof sal in September ’n saak oor die kwessie van mededingende grondeise aanhoor. Dit behoort duidelikheid te bring rakende die status van mededingende eise wat ná 1 Julie 2014 ingestel is op reeds afgehandelde grondeise wat teen 31 Desember 1998 ingedien is. Dit geld ook vir die wat nog afgehandel moet word.
Die Grondwethof het onlangs die gewysigde Wet op die Herstel van Grondregte (Wet 15 van 2014) ongeldig verklaar weens die Parlement se versuim om behoorlike openbare verhore te hou in sy haas om die wetgewing voor die 2014-verkiesing afgehandel te kry. Die Parlement het 24 maande gekry om die wetgewing reg te stel.
Restitisie kry voorkeur
“Restitisie kry voorkeur,” sê mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming. Indien ’n situasie ontstaan waar die Departement grond vir ’n begunstigde van grondhervorming aangekoop het en ’n grondeis word later op daardie grond ingestel, sal die grondeis voorkeur geniet.
Die begunstigde van grondhervorming sal egter nie aan sy eie lot oorgelaat word nie. ’n Ander stuk grond sal voorsien word, het Nkwinti aangedui. Sy departement sal kyk na die impak wat die staking van die nuwe eisproses op die indiening van eise het en besluit of die eisproses verleng moet word.
Laat mededingende eise toe
Die herroepping van die gewysigde Wet op die Herstel van Grondregte van 2014 deur die Grondwethof was nie soseer weens die gebrekkige proses nie, maar ’n groep nie-regeringsorganisasies wat uitgevind het dat die departement mededingende eise toelaat, sê mnr. Danie du Plessis, die verteenwoordiger van die oostelike streek van die TLU SA.
Wat in praktyk gebeur het is dat begunstigdes van die restitusieproses wat in 1998 geëindig het, tot hul skok moes agterkom dat diegene wat reeds grond gekry het, mededingende eise ontvang het. Dit was dus nie slegs wit kommersiële boere wat blootgestel is aan nog grondeise nie nadat die eisproses deur middel van vergoeding afgehandel is nie.
Du Plessis waarsku dat mededingende eise tot geweld tussen swart grondbegunstigdes kan lei as die kwessie nie opgelos word nie.