Tapmelk, wat uit grootmaat-tenks verkoop word, is nie altyd plaasvars en gesond nie. Navorsers van die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein het monsters van 53 sulke melkverkopers in en om die stad geneem en bevind dat die meeste die wetlike riglyn vir koliform-bakterieë oorskry, wat beteken dit bevat heel moontlik organismes wat siektes veroorsaak.
Die e. coli-bakterie, wat voedselvergiftiging kan veroorsaak, is in 29 van die monsters gevind. Die helfte van die monsters was nie gepasteuriseer nie, en twee was net deels gepasteuriseer. In nege van die monsters was spore van etanol.
In een van die monsters is selfs spore van ’n ontsmettingsmiddel gevind, waarskynlik omdat die tenk nie behoorlik uitgespoel is nadat dit ontsmet is nie, sê dr. Karabo Shale, een van die navorsers van die departement vir landbou en omgewingswetenskappe.
Shale het hul navorsingresultate op ’n suiweltegnologie-simposium buite Thaba Nchu voorgehou. Die somatiese seltelling en fisio-chemiese samestelling van die melk wat hulle getoets het, was in die algemeen goed en op standaard.
Die hoë mikrobe-inhoud is dus ’n aanduiding dat die probleem by die proses buite die plaashek lê. Die navorsers skryf dit aan gebrekkige kennis van higiëniese prosedures onder die melkhanteerders en -handelaars toe.
Werkers word ook nie behoorlik opgelei nie. Shale sê by een van die tapmelkpunte wat hulle besoek het, het ’n werker selfs ’n mop gebruik om die tenk skoon te maak.
Hulle is ook oortuig dit is ’n landwye probleem en nie net tot die omstreke van Bloemfontein beperk nie. Melk word al dekades lank in veral laer sosiaal-ekonomiese woonbuurte uit grootmaat-tenks verkoop, en dit is algemeen bekend dat die nodige higiëniese maatreëls dikwels nie toegepas word nie, sê Shale.
Maar juis omdat ’n groter aantal mense met swak immuniteitstelsels in dié gebiede woon, is dit des te belangriker dat die melkhanteerders en -verkopers opgelei word om die voedselveiligheidsreëls na te kom.
18 April 2011