
’n Verhoogde invoertarief vir koring kan teen die einde van Februarie inskop, wat ’n welkome hupstoot aan die plaaslike koringpryse behoort te gee.
Graan SA sê die onlangse dalings in die internasionale prys van harde rooi winterkoring (HRW) behoort binnekort ’n verhoogde koring-invoertarief te sneller.
Die tarief is daarop gemik om die kwynende plaaslike koringbedryf te help beskerm, wat deesdae nog net in omtrent die helfte van die nasionale vraag na dié graan kan voorsien.
In die vorige ronde wat 'n invoertarief-aankondiging volgens regeringsregulasie moes gebeur, het die burokratiese aanpassing van die tarief tussen drie en vier weke geduur voordat dit finaal afgekondig is. ’n Amptelike afkondiging word einde Februarie verwag.
Die invoertarief tree in werking sodra die internasionale vry-aan-boord-prys vir HRW nr. 2-koring oor drie agtereenvolgende weke met ’n bepaalde vloerprys per ton onder die verwysingsvlak verhandel.
Die vorige keer wat die invoertarief ingeskop het, was in Junie 2012, toe die internasionale HRW-koringprys ook oor 'n beduidende tyd goedkoper as die verwysingsprys was.
Op die internasionale mark volg wêreldpryse van koring nou die beer-roete, hoofsaaklik afwaarts. Dit word deur sterk uitvoer-mededinging op die wêreldmark aangevuur.
Rusland is die voorste uitvoerder wat tot dusver in Suid-Afrika se nasionale tekort voorsien het. Die land het die vorige seisoen in sowat 40% van die nasionale behoefte (meer as 246 000 ton) verskaf.