
Marktoegang vir landbouprodukte wat bekom is met die sluiting van ’n ekonomiese vennootskap-ooreenkoms (EPA) tussen die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sadu) en die Europese Unie (EU), sal in November van krag wees.
Vir Suid-Afrika vervang dié ooreenkoms die ou Handel-, Ontwikkeling en Samewerkingsooreenkoms (TDCA) wat in 2000 geteken was.
Ál die ander voorwaardes van die EPA wat gesluit is met die Sadu-lande, bestaande uit Suid-Afrika, Botswana, Mosambiek, Namibië en Swaziland, het op 10 Oktober van krag geword.
Beskerming van geografiese indikators
Die Departement van Handel en Nywerheid sê die rede waarom die voorwaardes vir landbouprodukte eers op 1 November van krag word, is omdat sekere geskrewe versekering tussen die EU en Suid-Afrika uitgeruil moet word wat die beskerming van mekaar se geografiese indikators bevestig.
Van die mees bekendste Suid-Afrikaanse produkname wat beskerming kry, is byvoorbeeld karoo-lam, rooibos en heuningbos. Altesaam 102 wynname, soos Stellenbosch en Paarl, kry ook beskerming. Op sy beurt sal Suid-Afrika beskerming bied aan 253 Europese produkname, wat insluit 120 wynname, sewe biere, 22 spiritualieë en 104 landbouprodukname.
Die EPA maak dit vir die eerste keer moontlik dat Suid-Afrika 150 000 ton suiker en 80 000 ton etanol tariefvry na die EU uitvoer. Mnr. Trix Trikam, uitvoerende direkteur van die SA Suikervereniging, sê toegang is verleen vir 100 000 ton rietsuiker en 50 000 ton riet- of geraffineerde suiker.
Produksie van suiker
Die plaaslike suikerbedryf produseer gemiddeld 2,3 miljoen suiker per seisoen, maar daar was ’n afname in dié produksie weens die droogte.
Trikam sê solank die EU-prys hoër is as die wêreldmarkprys, bied die EPA waarde in terme van die uitvoer van suiker vanaf Suid-Afrika.
Die deur is ook oopgemaak vir die tariefvrye uitvoer van ’n bykomende 60 miljoen liter wyn. Altesaam 110 miljoen liter Suid-Afrikaanse wyn sal dus tariefvry na die EU uitgevoer kan word. Daar is ook verbeterde toegang vir geblikte vrugte, blomme, sekere suiwelprodukte, gis en vrugtesap beklink.
Die nuwe ooreenkoms maak ook vir die eerste keer voorsiening dat die EU nie van uitvoersubsidies gebruik kan maak vir die landbouprodukte wat vir die Afrika-lande bestem is nie.
In ruil hiervoor het die Sadu-lande ’n tariefvrye kwota vir die invoer van 300 000 ton koring en mengkoring (meslin) uit die EU toegestaan.